HOFMEYR NUUS - Die balju van die Enoch Mgijima-munisipaliteit se tegniese dienste-kantore in Komani, het verlede week, Dinsdag, 6 Augustus, beslag gelê op talle munisipale voertuie as gevolg van agterstallige skuld.
Oos-Kaapse skaduminister van vervoer en Enoch Mgijima kiesafdelingleier, LPP Horatio Hendricks, het die beslaglegging deur die balju in die Enoch Mgijima-munisipaliteit as 'n aanklag op die disfunksionele aard van die munisipaliteit bestempel.
Dorpe wat val onder die munisipaliteit sluit in Tarkastad, Hofmeyr, Molteno, en Sterkstroom.
Die munisipaliteit staar ernstige uitdagings in die gesig met dienslewering wat amper nie bestaan nie, meer as R1,2 miljard Eskom-skuld, en vertraagde nasionale regeringsingrypings.
In kleiner dorpe in die gebied is die munisipale kantore dikwels bloot gesluit en elektrisiteits- en waterprobleme duur onverpoosd voort. Waar inwoners nie self inspring en planne beraam nie, sukkel hul eenvoudig voort.
Die beslaglegging deur die balju by die munisipaliteit se tegniese dienste-kantore in Komani sluit in nege tegniese voertuie en twee kersieplukkers weens skuld van R2 miljoen.
Hendricks sê die beslagleggings, wat na bewering gekoppel word aan onbetaalde eise van voormalige werknemers, spreek tot die wanorde binne die munisipaliteit en die minagting van die oppergesag van die reg deur amptenare.
Die DA se Enoch Mgijima-koukusleier, raadslid Tokkie Deysel, het met die munisipaliteit gepraat om te bepaal wat die impak van die beslagleggings op dienslewering sal wees, en watter stappe gedoen word om die voertuie terug te kry. Deysel onderneem ook om parlementêre vrae aan die Oos-Kaapse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Zolile Williams, te stel om te bepaal watter ingrypings gedoen gaan word om te verseker dat dienslewering in die munisipaliteit kan plaasvind.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’