GRAAFF-REINET NUUS - ‘n Babaseuntjie van nege maande, wat in die sorg van sy ouma gelaat is terwyl sy ma werk, het Maandag 25 November byna verdrink.
Die kleinman het buite op 'n kombers in sy ouma se agterplaas in Michausdal gesit terwyl sy wasgoed gedoen het.
Terwyl sy die eerste bondel gaan ophang het, het die seuntjie teen die wateremmer opgestaan, sy balans verloor en kop eerste in die waswater geval.
Buurman Romando Snell het net na 10:00 die ouma se gille gehoor en haar in die straat met die bewustelose baba in haar arms gevind.
Snell het die eerste verbygaande voertuig probeer stop.
"Dis toe wraggies die polisie, maar al roep en beduie ek hoe hard, draai hul eerder hul ruit op en ry verder. Toe sit ek ‘n boodskap op die crime group om hulp te vra."
Charl van den Bergh van Smhart Sekuriteit het dadelik na die huis gejaag waar hy noodhulp en mond-tot-mond asemhaling toegepas het.
"Die baba het baie water opgegooi en hy het begin huil, waarna ons hom na die provinsiale hospitaal op Cradock [Nxuba] geneem het."
Snell sê die geskokte ouma Dinsdag gesê die baba is wakker, maar is steeds op suurstof.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’