GRAAAFF-REINET ATLETIEKNUUS - Die atlete van die Graaff-Reinet Running Club het verlede Woensdagaand, 5 Desember, hul drafklere vir aanddrag verruil vir hul jaarlikse prysuitdeling by die Botaniese Sportklub.
Dit was 'n baie aangename en gesellige aand waartydens daar lekker saam gekuier is en toekennings gemaak is aan die klub se presteerders vir 2018.
Dit was op dié aand ook weereens duidelik dat die Graaff-Reinet Running Club nie net goed kan presteer op die pad nie, maar dat die klub se lede ook kampioene is wanneer daar heerlik saam gekuier en sosiaal verkeer word.
Elise Steynberg, 'n woordvoerder vir die klub, het die volgende te sê gehad, "Baie geluk aan al die klublede wat pryse ontvang het, die klub is bevoorreg om dié toekennings aan elkeen van julle te kon maak. 'n Woord van hartlike dank aan die komitee en almal wat betrokke was by die reël van so 'n suksesvolle en heerlike geleentheid".
Die volgende lede spog met trofeë:
Carissa Marais is aangewys as die klub se 'Runners' Runner of the Year', Stefan Steynberg as die beste mans atleet en sy eggenote Elise as die beste vroue atleet.
Die Skilpad-trofee is aan Sophia du Plessis oorhandig en die trofee vir die beste opkomende atleet aan Marnice Pieterse.
Malinda Piek is beloon vir haar goeie sportmansgees, Elise Steynberg vir die atleet wat die meeste kilometers tydens die seisoen kaf gedraf het en Eric Foendien as die eerste mans atleet van die klub wat oor die wenstreep by die Windpomp Run getrap het.
Elizna Fourie het 'n prys ontvang vir die eerste vroue atleet van die klub wat oor die wenstreep getree het.
Die getrouste atlete by klubwedlope deur die loop van die seisoen was Christie en Hernus Stols.
Eric Foendien is dan ook vereer as die eerste klublid onder die mans wat oor die wenstreep getrap het by die Comrades, en Elise Steynberg as die eerste vroue lid.
Stefan Steynberg was die klub se eerste mans atleet oor die wenstreep by die Two Oceans-wedloop en Elise die eerste vroue atleet.
Die getrouste atlete by klubwedlope deur die loop van die seisoen was Hernus en Christie Stols.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'