ABERDEEN NUUS - Die Aberdeen Toerisme Assosiasie (ATA) spog met 'n nuwe bestuur sedert hul eerste algemene jaarvergadering, gehou op 18 April.
Jeanine Marx, eienaar van Biltong & Braai Deli is tydens die vergadering eenparig gekies as voorsitter vir die organisasie se tweede bestaansjaar. Angie Horn, eienaar van Windmill Coffee is die nuwe ondervoorsitter.
Twee addisionele bestuurslede, Wiid Bruwer en Heinrich Marx, voltooi die bestuurskomitee.
ATA het in 2023 onafhanklike bestaans-reg as distriksmunisipaal erkende gemeenskapstoerisme-organisasie verky met raadslid Adriaan van Heerden aangestel as Sarah Baartman-distriksmunisipale verteenwoordiger. Die organisasie resorteer onder Graaff-Reinet-toerisme.
"In ons eerste bestaansjaar was die grootste uitdaging, en ook die grootste mylpaal behaal, die suksesvolle daarstel van 'n amptelik erkende organisasie met 'n eie konstitusie, gedragskode en bankrekening, asook voldoening aan die voorgeskrewe munisipale struktuurvereistes," verduidelik Sterna Thwaites, uittredende voorsitter.
"Dit was 'n jaar vol uitdagings vir die bestuur, veral omdat al die bestuurslede vrywilligers is met eie voltydse besighede en almal maar tussendeur tyd moes vind om die 'nuwe baba' te verwelkom en te versorg. As amptelike organisasie moet daar deurgaans rekord gehou en terugvoer gegee word van alles wat gedoen word."
Thwaites lig uit dat ATA nie net op sy eie bene begin staan het as munisipaal erkende toerisme-organisasie nie, maar ook goeie samewerking met die plaaslike munisipale personeel gebou het in die deurlopende oorlog teen rommel om die dorp skoner te kry en te hou.
As uittredende voorsitter is sy opgewonde om die teuels te oorhandig aan Jeanine Marx en die res van die nuwe bestuur.
"Jeanine en Angie is beide energiek en dinamies met Wiid en Hantie as ouer, ervare persone, 'n amper kosmies gekose samestelling van 'n bestuurskorps wat die organisasie verantwoordelik vorentoe kan neem. Ons het volle vertroue in ons nuwe bestuur."
Marx sê sy is versigtig optimisties oor die nuwe uitdaging. "Dit is 'n jong organisasie met 'n stewige fondasie en hoekstene, maar in onseker plattelandse ekonomiese omstandighede moet elke tree vorentoe versigtig beplan word."
Sy bevestig dat toerisme 'n lewensaar van die kleiner besighede en veral akkommodasiegeriewe in die dorp is, en dat ATA Aberdeen steeds graag as 'n skoon, veilige en rustige plattelandse wegbreekbestemming wil bemark. ATA het nog nie 'n sentrale, onafhanklike fisiese adres, oftewel 'n kantoor nie en die volgende logiese doelwit is om 'n fisiese inligtingspunt in die dorp te vestig.
"ATA het 'n suksesvolle sigbare digitale voetspoor, veral in sosiale media en ons verbreed dit steeds, maar besoekende toeriste het 'n fisies besoekbare, gesentra-liseerde punt in die dorp nodig waar inligting oor die dorp, besighede en toerisme-trekpleisters eerstehands bekom kan word."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’