GRAAFF-REINET NUUS - In die misdadigers se pogings om eiendom van ander deur kriminele aktiwiteite te bekom, het die polisie daarin geslaag om een huisbreker en vyf diewe te vang.
Een persoon wat toerusting van motors af gesteel het, is vir diefstal toegesluit, terwyl een booswig binne 'n motor sy porsie gesteelde goed toegeëien het, en kort daarna vir diefstal selle toe geneem is.
Vier winkeldiewe is ook op heterdaad betrap, en een is vir veediefstal hof toe geneem.
Een verkragter is ook in inhegtenis geneem. Vir aanranding ernstig en aanranding gewoon is twee verdagtes op elk van dié klagtes toegesluit.
Een persoon is vir die besit van dwelms en een vir dronkbestuur aangekla.
Een motorbestuurder het in die lang arms van die gereg beland vir 'n verkeersoortreding.
Vyf mense wat alkohol oormatig gebruik en hul wanordelik gedra het, het ook in die tronk beland.
Aberdeen
Vyf arrestasies is in dié Karoo-dorp uitgevoer. Soos verlede week het iemand wéér 'n beskermingsbevel geminag.
Vir strafbare mansslag is een persoon aangekla en so ook een vir aanranding.
Twee mense het geboet vir dronk en wanordelike gedrag.
Vonnisse
In al nege vonnisse wat in die Graaff-Reinet-landdroshof opgelê is, het die veroordeeldes die tronk vrygespring.
'n Dief is tuis vir 24 maande onder korrektiewe toesig geplaas. Twee winkeldiewe is onderskeidelik R1 500 boete of drie maande gevangenisstraf en R2 00 boete of vier maande gevangenisstraf opgelê. Besit van dagga het iemand R1 000 gekos, met die keuse van 90 dae gevangenisstraf.
Die besit van Mandrax het een persoon R1 500 of drie maande gevangenisstraf, en 'n ander R1 000 boete, alternatiewelik vier jaar gevangenisstraf gekos.
'n Huisbreker se ses maande tronkstraf is vir twee jaar opgeskort
In die geval van geweldsmisdrywe is 'n rower 1 000 beboet, met die keuse van ses maande gevangenisstraf, opgelê.
Aanranding het nog 'n veroordeelde R1 000 boete met 'n keuse van 'n jaar gevangenisstraf gekos.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'