GRAAFF-REINET NUUS - 'n Gr. 7-leerder by Laer Volkskool, Arné Oosthuizen, het op 3 Desember 'n spesiale toekenning van Raptors Martial Arts by hul jaarlikse toekenningsgeleentheid ontvang.
Die Lion Heart-trofee is aan hom oorhandig vir selfvertroue, dryfkrag, toewyding en teenwoordigheid. Op 49 kg is hy die kleinste in die senior span, met letterlik die hart van 'n leeu.
Arné het in 2023 die sport by die klub begin beoefen omdat hy erg deurgeloop het onder boelies, vertel sy ma, Antoinette Hart.
Slegs ses weke later het hy drie medaljes by sy eerste kompetisie verower - goud, silwer en brons in verskillende dissplines.
In 2024 het hy OP-kleure verwerf en in September sy oranje belt gekry.
Vervolgens het Gert van der Merwe, die boks- en fiksheidsafrigter by Raptors, versoek dat Anré ook begin boks omdat hy soveel potensiaal het.
Hart sê Anré geniet die sport terdeë.
"Hy is fiksheidsbewus, dit verbeter sy konsentrasie. Dit gee hom selfbeheersing en selfvertroue,” vertel Hart.
"Sy sensei het gesê dat Arné soveel dryfkrag het dat hy volgende jaar vir elke kompetisie ingeskryf sal word."
Arné self sê hy droom daarvan om op groot skaal vegkuns te beoefen en dit sy voltydse beroep te maak. Drikus du Plessis is sy rolmodel.
"Ons as ouers is super trots op hom," sê Hart.
"Hierdie trofee beteken vir ons seun soveel, mens kan net dink hoe hierdie toekenning hom en sy persoonlikheid eer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’