KAROO NUUS - 'n Inwoner van die plaas Sewefontein in die Baviaanskloof, Lester Lucas, vertel dat hy verlede maand deur 'n vark gebyt is en dringend mediese hulp benodig het.
Die ambulans is die oggend ontbied en hy en 'n dame wat in kraam was, is die middag 14:00 deur 'n ambulans opgelaai.
"Ons is vir vyf ure naby Adamskraal vertraag omdat die ambulans in modder vasgesit het," vertel hy. "My hand het verskriklik gebloei en ek en die jong dame het albei baie pyn gehad."
Lewensgevaarlik
Die ambulanspersoneel hul bes probeer om die voertuig uit die modder te kry, maar dit was eers toe verbygaande toeriste gehelp het dat hulle verder kon ry.
Hulle het toe eers teen 22:00 by die hospitaal aangekom. "Gelukkig was ek en die dame nog oukei, maar wat sou gebeur het as ons mediese toestande erger was? Daarom wil ek 'n beroep op die regering te doen om aandag aan die swak paaie te gee," sê hy.
Ewald Loock, DA-raadslid van wyk 8 wat Baviaanskloof insluit, sê paaie in die hele Baviaans is sleg, veral ná swaar reën in Junie. Nietemin is Baviaanskloof se paaie volgens hom deesdae beter omdat dit darem sedert die ambulans-insident geskraap is. Van die ander paaie in die Baviaans-omgewing is glo so sleg dat dit onbegaanbaar is. Een daarvan is die R1727 waarvan die sementblad heeltemal weggespoel het. Volgens Loock was daar reeds 'n vergadering met die departement, maar weinig het daarvan gekom.
Vee stap 10 km
Loock vertel 'n vragmotor met vee het ook onlangs op die pad vasgesit. Die vee moes afgelaai en tot op die plaas aangejaag word. Hieroor was die eienaar van die vragmotor en vee baie ontevrede.
"Hopelik kom daar in my leeftyd 'n dag wat ek kan sê dat al die soorte belasting wat ek betaal iewers sinvol aangewend word. Hier sit my lorrie op die Strydomsvlei pad vas as gevolg van spoelslote wat nooit herstel word nie. My vee moes 10 km stap, want my paaie is onbegaanbaar," het hy gesê.
Die skouers van die R1727 sementpad is, volgens Loock, intussen so bietjie opgegradeer en 'n kontrakteur is aangestel om die sementblad te herstel, maar benewens dit, het daar nog niks gebeur nie.
Pad kelder ambulanse
Loock sê op 'n stadium het drie gebreekte ambulanse by 'n plaaslike werktuigkundige gestaan as gevolg van swak paaie. "So baie voertuie gebruik die paaie - polisievoertuie, ambulanse, die kliniekbussie van Rietbron wat by Vondeling en plase moet uitkom, skoolbusse ... al hierdie padgebruikers het die reg op paaie wat onderhou word."
Hy vertel die departement het weggedoen met die plaaslike paaieforum van ouds en nou kan inwoners geen insette lewer nie. "Padgebruikers wil met die departement kommunikeer. Dit is tog 'n reg omdat belastingbetalers betaal vir die herstel en onderhoud van paaie."
Die R1727 se sementblad het heeltemal weggespoel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’