HOFMEYR NUUS - In die plattelandse dorpie Hofmeyr, is Bettie Brown (52) 'n welbekende gesig waar sy in haar gemeenskap rondskarrel, voorvat, raakvat, organiseer en bid.
Bettie het haar skoolopleiding by die Michausdal Senior Sekondêre Skool, by Cradock, tot gr 10 voltooi, waarna sy moes terugkeer om haar verswakte ma te versorg.
Daarna het Bettie neé Baroda, op 'n plaas gaan huiswerk doen, tot haar huwelik met Japie Brown, in 2002.
Na hulle huwelik het die egpaar hulle in Hofmeyr gaan vestig, waar hulle in 'n nuutgeboude HOP-huisie ingetrek het, en saam het hulle gedroom oor 'n huis vol kleingoed, en geestelike werk in hulle gemeenskap.
Na 'n miskraam moes Bettie en Japie 'n groot kopskuif maak, "want ons huisdokter het ons duidelik laat verstaan dat daar nie verdere swangerskappe mag wees nie," vertel Bettie.
Dié egpaar, met Bettie as voorspraak, het geregistreer as pleegouers. Sparrows Child and Youth Care Centre in Tarkastad het dié egpaar by hulle pleegsorgprogram betrek.
Tot op datum het die Browns reeds 11 pleegkinders versorg en die jongste is nou 11 jaar oud. Vir Bettie is elke kind haar eie, en sy en Japie spog graag met hulle groot gesin. Hulle het ook nege kleinkinders, wat sy graag bederf.
Toe Hofmeyr 'n erge waterskaarste beleef het, het Bettie 'n plan geteken, en handige Japie het vir die huishouding 'n waterkar gebou. Drie van hulle kleinseuns (14 en twee van 12) is die "bestuurders" van die watersleepkar, wat ook inkopies- en vir verskeie gesinne water aanry, teen geringe betaling.
Japie het in 2011 die Right Unity Church, met hoofkantoor in Pretoria, in Hofmeyr kom vestig. Hy is bevorder tot apostel en onder sy leiding het Bettie
begin leer vir pastoor en is sy in 2022 ingesweer as voltydse pastoor in haar gemeenskap.
Bettie sê: "Ek het baie toekomsdrome. Ek het al baie vir die Here gevra om vir my 'n geestelike leier te maak vir al die vroue om my. Ek is so dankbaar dat hy my uitverkies het!"
Sedert 2018 skakel Bettie ook voltyds in by Hofmeyr Hugs of Hope, waar sy met basiese naaldwerk begin het. Sedertdien het sy al by dié instansie gevorder tot naaldwerkinstruktrise. Plaaslike inwoners weet dat Bettie graag lappieskomberse maak en pragtige kunsnaaldwerk doen.
"Ek geniet Hugs, daar het ek baie geleer en myself bekwaam," vertel sy.
Bettie glo ook daaraan om selfversorgend te wees en bedryf haar eie groentetuin. "Die waterkar moet net meer water bring!" Dan het Bettie ook 'n hoenderboerdery en 'n span vet varke!
Die Brown egpaar het 'n groot liefde vir boeremusiek en hulle bure weet dit goed, want spesiale geleenthede word gevier!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’