ABERDEEN NUUS - AJ de Jager (17), seun van Heinrich en Zenda Delport van Aberdeen, het homself onlangs as meester van die metaaldraaibank bewys.
De Jager, 'n graad 11 leerling aan Langenhoven Gimnasium in Oudtshoorn, het in die Wes-Kaapse Onderwys-departement se tegniese vaardigheids-kompetisie tweede plek in die meganiese tegnologie-afdeling verower.
Die kompetisie is op 30 en 31 Augustus by Hoër Tegniese Skool Bellville gehou en sowat 500 leerders in grade 10 en 11 het in die instrukteur- en leerderfases deelgeneem.
De Jager en 'n mede-Gimmie, sy vriend Gerrit Maritz, het in hulle afdeling beide eerste en tweede prys verower. "Ons is vriende, maar in die werkswinkel is ons ook mekaar se grootste kompetisie. Dit is spesiaal dat juis ons twee van dieselfde skool eervolle plekke behaal het," sê De Jager.
Wat die metaal-draaibankwerk in die jaarlikse kompetisie uitdagend maak, is hoe absoluut akkuraat die vervaardiging van die gegewe produk moet wees. Deelnemers ontvang 'n plan en die rou materiaal; moet dan die plan lees en interpreteer; en die produk op die draaibank draai en afwerk. "Ons is bepunt tot 'n honderdste van 'n millimeter in ons afwerking." Deelnemers het in lyn met internasionale praktyk, vyf ure om die taak te voltooi.
Geleer fokus
De Jager se liefde vir tegniese inligting en vaardighede is egter nie sonder 'n skadukant nie. In Graad 1 is hy gediagnoseer met disleksie en aandag-gebrekhiperaktiwiteitsindroom (bekend as ADHD).
De Jager sê hy kan onthou hy het gesukkel om te lees omdat sy brein sekere letters net nie herken nie. "En dan het ek alle woorde net aanmekaar geskryf. En ek het maar altyd gesukkel om stil te sit en te konsentreer."
Hy sê soms sou hy so goed fokus om stil te sit en te fokus, dat al wat hy ingeneem het, was dat hy gefokus het, maar nie kon herhaal waarop hy gefokus het nie.
Dit was ook 'n tydsame proses om die goue plek te vind met toepaslike medikasie. "Maar ek het baie goeie leiding ontvang en vandag beskik ek oor die nodige vaardighede om my aandagspan te behou. Ek sukkel steeds met lees en skryf, maar gelukkig in die skool het ek tydens eksamentyd 'n leser/skrywer," verduidelik hy. De Jager se leermateriaal is in stemformaat. Hy het ook geen probleem om ingewikkelde formules te verstaan en memoriseer nie. "Ek luister en onthou alles in my kop en dan werk ek dit so uit ... alles in my kop."
Aanhouer wen
De Jager sê mens moet net altyd aanhou probeer: "Al sukkel jy, hou net aan. Hoe harder en meer jy probeer, hoe beter sal jy vaar. Moenie skaam of bang wees om te probeer nie." Hy glo elke jongmens moet praktiese vaardighede aanleer.
As deel van sy prys saam met sy sertifikaat en medalje, het De Jager 'n gereedskapkas en sleutelgereedskapstel ontvang.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’