Update
GRAAFF-REINET NUUS - Vier olifante afkomstig van die Addo-olifantpark wat op 6 Maart in die Samara Karoo-reservaat vrygelaat is, pas goed aan in hul nuwe omgewing.
Volgens Samara se woordvoerder, Theresa Gibbon, vorm die verskuiwing van die olifante deel van 'n inisiatief om olifante op 'n nuwe deel van Samara te vestig, waar daar na raming al 150 jaar lank nie meer olifante is nie.
Die Addo-kudde en die stigterstrop, wat reeds geruime tyd in die reservaat is, het oor die afgelope weke meer ontspanne met mekaar geraak.
Nie net het hulle mekaar begin opsoek nie, maar hulle bring ook tyd deur in mekaar se nabyheid deur.
Die personeel by Samara sê die Addo-gesin beweeg vrylik rond en die twee troppe beweeg deesdae vreedsaam saam in die reservaat.
Dit is 'n belowende teken dat die Addo-kudde nou in hul nuwe tuiste gevestig is.
Dit was vir die personeel besonders om te sien hoe 'n slagtandkoei van die oorspronklike stigterstrop haar slurp oor die jongste Addo-bulkalf strek om 'n bek vol blare te gryp; 'n defnitiewe bewys dat die onderskeie troppe gemaklik in mekaar se geselskap is.
Gebeurlike verskuiwing
Tydens die verskuiwing was die olifante vergesel van 'n professionele wildverplasingspan, veeartsenykundige span, vrylatingspan en Samara se eie span wat die olifante gemonitor het om hul veiligheid te verseker.
Maar die rit was nie sonder sy uitdagings nie.
Die vragmotor wat die olifante vervoer het, het op 5 Maart op die N10 by die Olifantskop-pas 'n ongeluk gehad.
Na deeglike waarneming het die veeartse egter bevestig dat die olifante nie beseer is nie, en daar was geen sigbare tekens van wonde toe hulle van die vragmotor af die reservaat ingestap het nie.
In die weke sedertdien is die olifante fyn dopgehou om hul gesondheid en welstand tydens die proses van vestiging in hul nuwe tuiste te monitor.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’