ABERDEEN NUUS - Sedert Vrydag 5 April tot Dinsdagoggend, 9 April, is tussen 91 en 95 mm op verskeie plekke in die dorpsgebied van Aberdeen gemeet en syfers uit die omliggende distrik is selfs heelwat hoër.
Boere in die omgewing het metings deurgegee van 103 mm tot meer as 170 mm vir dieselfde tydperk.
In Aberdeen het talle inwoners van Maandagoggend af ‘n gesig gesien wat hulle nog nooit voorheen, of baie jare laas gesien het - water vloei sommer sterk in die gewoonlik droë rivierloop van die Kraairivier wat deur die dorp kronkel.
Een inwoner het opgemerk: “Nou weet ek ook uiteindelik in watter rigting die rivier loop – ek wonder al vir vyf jaar daaroor!”
Lizemari Jordaan laat weet van hulle Aberdeen-distrik plaas, Nuwerust, af dat sy van die huis af werk, want hulle toegangsroete dorp toe is onbegaanbaar en dat die 103 mm amper meer is as wat die algehele totaal vir verlede jaar was: “Ons damme het laas in 2021 water gehad en loop nou, na die naweek se reën, uit.”
Ten spyte van periodieke redelike swaar donderstorms sedert Vrydag, is oënskynlik relatief min skade sover aangemeld.
Die dorpsgebied het vir kort periodes kragonderbrekings ervaar, maar elektrisiteitstoevoer is telkens spoedig herstel. In Ziervogelstraat, naby die rivier, is ‘n groot dooie boom ontwortel en het dit oor die pad geval, maar dis ‘n gebied wat min verkeer dra.
Die algemeenste skade is lekkende dakke en die grootste uitdaging vir talle voetgangers is om veilig en heelhuids by hul bestemmings uit te kom, want die dorp se andersins stofstrate is tans miniatuur mere en glibberige modderbaddens.
In Aberdeen staan die gemiddelde reënval vir die jaar sover op 120 mm, met 159,5 mm vir Januarie tot April 2022, en 213,5 mm vir dieselfde tydperk in 2023.
Verdere reën word gedurende die res van April verwag.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’