ABERDEEN NUUS - Johan Jacobs se getuienis dra ’n eenvoudige, maar diep boodskap: ons liggame is geskape om te genees.
Wanneer ons dit die regte toestande gee deur gesonde voeding, leefstylkeuses en die vermyding van skadelike invloede, kán ons ware transformasie beleef.
Die VLV Aberdeen-tak het op Saterdag 13 September onder leiding van sameroepster Petro Marx, ’n onvergeetlike Lente Gesondheidsoggend aangebied.
’n Oggend gevul met hoop, inspirasie en nuwe insigte oor gesonde leefstyl.
Die pragtig versierde Aberdeen-klubsaal het lede en gaste verwelkom by meer as net ’n geselligheid - dit was ’n uitnodiging tot genesing, vernuwing en lewenskrag.
Aberdeen-tak se mediaskakel, Karin Pienaar, vertel dat die gasspreker, Johan Jacobs, stigter van Go Natural, sy merkwaardige genesingsreis met die gehoor gedeel het.
“Meer as twee dekades gelede is Johan met veelvuldige sklerose (MS) gediagnoseer, ’n uiters verdoemende en lewensveranderende siekte.”
“Johan het ’n ander pad gekies.
Hy het begin soek na maniere om sy liggaam se eie genesingsvermoë aan te wakker.
Vandag, 21 jaar later, getuig hy van volgehoue gesondheid, vitaliteit en lewensvreugde.
Sy storie is nie net dié van oorwinning nie, maar ook van hoop vir ander wat hul gesondheid wil herwin, en hy leef voluit!”
Johan het in sy aanbieding gewys hoe alledaagse produkte en gewoontes ons gesondheid stilweg kan ondermyn.
Hy het praktiese wenke gegee oor hoe daar weer beheer geneem kan word deur eenvoudige, maar kragtige veranderings.
• Identifiseer en skakel oorsake van siekte uit.
• Verwyder toksiese invloede.
• Vervang verwerkte kosse met lewende, voedsame kos wat die liggaam voed en versterk.
Hierdie beginsels word volledig uiteengesit in sy boek, Go Natural - Wisdom for Healthy Living, wat al talle mense gehelp het om nuwe rigting in hul gesondheid en leefstyl te vind.
’n Warm geselligheid is geskep met heilsame sop en tuisgebakte suurdeegbrood.
VLV-lede en gaste kon saamgesels en hul ervarings deel. Elkeen het daar weggestap met nie net nuwe kennis nie, maar ook nuwe moed.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’