GRAAFF REINET NUUS - Aberdeen se VLV het Woensdag 6 November die jaar afgesluit by Karen van Rensburg se huis in die dorp.
Die fokus van die byeenkoms was opvoedkunde, kultuur, gesondheid en leefstyl.
Lize de Jager het geopen met die boodskap: "Vroue is kosbaar." Sy het die lede herinner dat vroue mekaar te alle tye met respek en liefde moet behandel.
Voorsitter Lea van der Vyver het langdienstoekennings aan lede oorhandig. Lize de Jager is reeds 35 jaar 'n lid en in vergelyking met De Jager is Stephanie Theron nog 'n nuweling met getroue vyf jaar diens! Vyf nuwe lede is ook verwelkom.
Borskanker is 'n realiteit en een van die lede is verlede jaar daarmee gediagnoseer. Sy het ingestem om te gesels oor díe gesondheidsuitdaging vanuit 'n persoonlike perspektief. Sy het die behandeling voltooi en die laaste bloedtoets was normaal.
Getrou aan die digter AG Visser se vergelyking van 'n vrou met suurdeeg, waar die vrou, soos suurdeeg, al hoër rys in waarde, het JC van der Merwe van Die Padstal op Aberdeen gesorg vir 'n praktiese demonstrasie van hoe om met wildesuurdeeg (sourdough) te bak en elke lid is met haar eie baksel deeg huis toe.
Annelie Lategan het in 'n gelukkige trekking 'n 130-jaar-oue suurdeegplantjie gewen.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’