GRAAFF-REINET NUUS - Telkom-gedrewe kommunikasie in Aberdeen is sedert gistermiddag buite werking. Nadere ondersoek het getoon dat een van die pale op die hooflyn na Aberdeen net buite Aberdeen, rigting Graaff-Reinet, gevandaliseer is. In die proses is die lyne, asook optiese vesel, gesny, beskadig en/of verwyder.
“Die paal is afgesny. Dis nie ver van die sentrale nie en alles aan daai paal is vernietig, beskadig of verwyder”, aldus Hannes Eyssen, bekende en geliefde inwoner van Aberdeen.
Eyssen is Aberdeen se “Telkom man”: met geen formele Telkom kantoor of kontak in Aberdeen nie, is Eyssen, afgetrede Telkom werknemer, steeds die kontakpersoon en word hy periodiek gekontrakteer deur Telkom. Eyssen sê die impak van die vandalisering is groter as die beskadiging van ‘n paal:
“Ons sal moet wag vir mense van Queenstown of Port Elizabeth om ‘n nuwe paal te bring, te kom plant en dan moet al die goed vervang word - goed wat ook van elders af gebring moet word. As dit goed gaan, sal ons dalk eers weer Maandag aan die gang wees.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’