ABERDEEN NUUS - Drie maande gelede het Natasha Groenewald, 'n voltydse kunstenaar, haar in Aberdeen kom vestig.
Sy skep unieke houtborde waarop sy inspirerende woorde en pragtige skilderkuns kombineer tot kunswerke.
Maar Natasha se pad tot sukses was nie maklik nie.
Sy het op 11 Junie as besoeker by die VLV Aberdeen se vergadering meer van haar kunsvorm vertel.
In 2005 het sy haar eerste stap geneem in die wêreld van kuns- en handwerk - met slegs 60 stukke handgemaakte werk en geen geld om vir die uitstalruimte by 'n plaaslike mark te betaal nie.
“Ek het net gegaan, gehoop en gebid,” lag sy vandag. Tot haar verbasing was dit 'n groot sukses - en dit was net die begin.
Twyfel, finansiële bekommernisse en verskeie struikelblokke het haar pad gekruis, maar sy het nie moed opgegee nie.
Sy het net aanhou skep, haar werk begin uitstal by meer feeste en markte, en mettertyd het haar kuns nie net 'n stokperdjie gebly nie - dit het haar voltydse beroep geword.
Wat Natasha se werk en storie besonders maak, is haar opregte dankbaarheid, geloof en vasberadenheid.
Sy deel haar pad met eerlikheid, humor en warmte - en wys dat harde werk, kreatiwiteit en die moed om aan te hou, 'n kragtige kombinasie is.
Sy stal uit by Vroutjie-se-Koutjie Tuisnywerheid in Aberdeen, Kamdebo Padstal en die Windmill Coffee Shop.
Meer oor mandalas
Karen van Rensburg, Aberdeen VLV se sameroepster van kuns- en kandvlyt, het die oorsprong en waarde van mandalas by die geleentheid bespreek.
Die woord "mandala" is afkomstig uit Sanskrit, 'n antieke en heilige taal van die Hindoes, en beteken "sirkel" of "heelheid".
Hierdie kunsvorm het eeue gelede ontstaan en is vandag steeds prominent in kulture wêreldwyd - veral in Boeddhistiese en Hindoe-tradisies.
Karen vertel dat 'n mandala 'n sirkelvormige ontwerp is met herhalende, simmetriese patrone wat van 'n middelpunt af uitstraal.
Elke kant van die mandala lyk dieselfde, wat dit 'n simbool van balans, orde, en 'n geestelike reis maak.
Mandalas is nie beperk tot inkleurprente nie. Hulle kom ook voor in kerkvensters, sandkuns, hekelwerk en selfs argitektuur.
Hulle is nie net mooi nie; hulle raak die siel aan.
Die maak of inkleur van mandalas is 'n vorm van stilte en bring genesing.
Dit bevorder ontspanning en stresverligting, verbeter konsentrasie, stimuleer kreatiwiteit, ondersteun emosionele genesing en skep ruimte vir stilte en refleksie.
"Dit bring 'n glimlag op jou hart," sê Karen met 'n warm glimlag, en haar vreugde is duidelik sigbaar.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’