GRAAFF-REINET NUUS - Aberdeen-boerevereniging het op 23 Oktober weer alle verwagtinge oortref met hul legendariese jaarlikse Aberdeen Boerevereniging Rally - 'n hoogtepunt in die distrik.
Die saamtrek is vanjaar besonder goed ondersteun met 69 deelnemers, 36 vol borge en nog nege borge wat geskenke gegee het.
Die saamtrek se informele atmosfeer bied die geleentheid vir besighede en kliënte om te gesels en verhoudings te bou.
Aberdeen-distrik is 'n groot area en die geleentheid bring boere en dorpenaars bymekaar.
Deelnemers skryf in pare in en word dan in vier kleurspanne ingedeel.
Deur die loop van die dag besoek die deelnemers vier standplase waar borge hulle ontvang en trakteer met iets om te drink en te eet en allerhande uitdagings soos kettieskiet en perdehoefgooi waarvoor hulle punte ontvang.
En dan is daar die vindingrykheid van borge - van 'n 'Karoo antibiotika' tot die waardeskatting van 'n bottel vol munte.
'n Hoogtepunt was Husky Skeerdienste se stalletjie waar deelnemers 'n graanvlokblokkie vinniger moes eet as wat 'n skaapskeerder 'n hele skaap skeer.
Menige deelnemer het nog met 'n mond vol graan gehap na asem terwyl 'n kaalgeskeerde skaap se wol reeds opgetel word.
Tydens die prysuitdeling en ete is niemand met leë hande huis toe nie en op die veiling het John Lapersonne van Lapersonne Wool 'n rekordprys betaal vir 'n reusekoolkop, geskenk deur Hommie en Toesie Slabbert.
Lapersonne het op sy beurt die kool aan Aalwynhof-ouetehuis geskenk.
Die hooforganiseerders, Hannes en Norette Janse van Rensburg en Colleen Ogilvie was dit eens met die borge: "Aberdeen Boerevereniging Rally en sy mense is one of a kind!"
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’