Update
ABERDEEN NUUS - Die opvolgverhoor van die 42-jarige boer van Aberdeen wat op verskeie klagtes teregstaan, het weer op 25 Februarie in die hooggeregshof in Makhanda (voorheen Grahamstad) hervat.
Die beskuldigde het al op 3 Desember om borg aansoek gedoen, maar dit was van die hand gewys.
Volgens adjudantoffisier Majola Nkohli is die boer op 3 Julie 2023 op klagtes van mensehandel (vyf aanklagtes), verkragting (vyf klagtes), aanranding met die doel om ernstig te beseer, intimidasie, kinderarbeid en kindermolestering in hegtenis geneem.
Die boer het onskuldig op al die aanklagtes gepleit.
Die beskuldigde is in Oktober 2020 geskei.
Volgends die egskeidingsbevel was hy veronderstel om vir die naweke en vakansies in die daaropvolgende vier maande ’n au pair beskikbaar te hê vir wanneer sy kinders hom sou kom besoek het, maar hy het egter glo alreeds vanaf Januarie 2020 daarvoor begin adverteer.
Van die vyf klaagsters in dié saak het in die hof getuig dat hulle elkeen, een na die ander, van Maart 2020 tot September 2022 op advertensies vir ’n au pair in die Aberdeen-distrik geantwoord het.
Hulle is toe glo deur die beskuldigde genader om behulpsaam met die versorging van sy twee minderjarige kinders te wees wanneer hulle naweke by hom tuisgaan.
Die boer het hulle dan onderskeidelik van so ver as Bloemfontein, Standerton, eMalahleni, Cradock, Amanzimtoti en Gqeberha na Aberdeen laat kom.
Hulle beweer dat hulle drankies vermoedelik gedokter was, waarop hulle dan die volgende dag in die beskuldigde se bed wakker geword het, sonder dat hulle enigiets kon onthou.
Een klaagster het ook swanger geword; sy sê sy kan geensins onthou dat sy met die beskuldigde seksueel verkeer het nie.
Hoewel die klaagsters nie van mekaar bewus was nie, het almal se bewerings ooreengestem.
Forensiese getuienis is op 27 Februarie gelewer, maar die inligting is nie aan die media bekendgemaak nie.
Vanaf 10 Maart is al die klaagsters onder kruisverhoor geneem, volgens inligting van Luxolo Tyali, die streekswoordvoerder vir die Nasionale Vervolginsgesag.
Die Graaff-Reinet Advertiser volg tans die saak, en ontwikkelinge sal mettertyd bekendgemaak word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’