ABERDEEN NUUS - Morné Fitzhenry, 'n merino-boer van Aberdeen, is onlangs as die wenner van die jaar se Toyota Jongboer van die Jaar-kompetisie aangewys.
Hy was een van drie Oos-Kaapse finaliste vir die 2022-kompetisie wat by die Mentors Country Estate in Jeffreysbaai gehou is.
Peter Cloete, president van Agri Oos-Kaap, het gesê dat dit moeilik was om die jaar 'n wenner te kies omdat die boere "indrukwekkende boerderye in hul onderskeie areas bestuur".
Ricky Pillay van Toyota Suid-Afrika, het ook aangedui dat die wenner die provinsie in die nasionale Jongboer-kompetisie sal verteenwoordig.
Fitzhenry het tydens sy toespraak vertel dat hy sy pa aan die dood afgestaan het toe hy baie jonk was en dat hy die boerdery moes oorneem. Hy het op die boerderygemeenskap van Aberdeen staatgemaak om hom leiding te gee.
Volgens 'n verklaring wat deur Agri Oos-Kaap uitgereik het Fitzhenry baie struikelblokke oorkom.
"Morné boer in die Aberdeen-distrik wat hard deur die droogte getref is. Sy boerdery het nie net die droogte oorleef nie, maar hy kon sy boerdery groei deur kleiner kampe vir lammers te bou en sy lamproses te intensiveer om homself 'n mededingende voorsprong in die mark te gee."
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'