ABERDEEN NUUS - Ontstoke inwoners van Aberdeen sou weer gister, Woensdag 4 Oktober, met Dr Beyers Naudé-munisipaliteit onderhandel oor wat hulle as onregverdige munisipale aanstellings bestempel.
Dit volg nadat hulle die deure van die munisipale kantoor in Aberdeen tydens 'n protesaksie op Maandag 11 September toegemaak en alle dienslewering aan die publiek vir twee weke lank onderbreek het.
Die ontevredenheid gaan oor die aanstellingsproses van tydelike algemene werkers asook die toekenning van permanente munisipale poste.
Sekere plaaslike besighede is swaar geraak deur die protesaksie omdat die munisipale kantoor reg oorkant die besighede geleë is. Twee eienaars vertel kliënte het omgedraai omdat protesgangers bande gebrand het. Die polisie het ook gevra dat besighede hulle deure en vensters toemaak omdat hulle moontlik traangas kon gebruik.
Te min poste
Boerie Holmes, een van die organiseerders van die protesaksie, verduidelik dat hulle veral ontevrede is omdat daar volgens hom onlangs 24 poste in die DBNLM beskikbaar was waarvan net een aan Aberdeen toegeken is. Die res daarvan is aan Graaff-Reinet toegeken.
"Ons voel dat dit nie regverdig is nie omdat ons almal aan een munisipaliteit behoort. Ons het die bestuur gebel en hulle gevra om na ons te kom om te verduidelik maar hulle het geweier. Daarom het ons besluit om die munisipaliteit hier te sluit totdat hulle kom om antwoorde te gee."
Die munisipaliteit het intussen wel op Vrydag 22 September met ontevrede inwoners vergader en hoewel die munisipaliteit nog vier addisionele poste aan Aberdeen toegeken het, is die inwoners steeds nie tevrede nie. Volgens Holmes het hulle dit duidelik gemaak dat hulle 16 poste vir Aberdeen eis. 'n Opvolgvergadering is vir Woensdag 4 Oktober geskeduleer, maar teen druktyd was daar nog nie terugvoer nie.
'n Navraag rakende die inwoners se ontevredenheid en die pad vorentoe in hierdie verband is aan Vuyisa Jantjies, woordvoerder van die Dr Beyers Naudé-munisipaliteit, gerig en sal geplaas word sodra hy daarop reageer.
Nie-amptelike kommentaar
'n Werknemer van die BDNLM, wat verkies om anoniem te bly, het intussen verduidelik dat die eerste argument met die Aberdeners begin het omdat 16 algemene werkersposte vir Graaff-Reinet geadverteer is.
Die inwoners wou toe weet waarom die poste nie tussen Graaff-Reinet en Aberdeen verdeel is nie. Daarna het hulle het die petisie aan die munisipaliteit gestuur waarin hulle geëis dat alle poste in Aberdeen gevries word.
Dít het die munisipale bestuurder, Eddie Rankwana, toe wel volgens hom gedoen. Die Aberdeners het ook geëis dat alle poste in die vervolg as DBNLM-poste geadverteer moet word en nie as poste vir 'n spesifieke dorp nie.
Volgens die werknemer het die munisipaliteit ook hieraan gehoor gegee. Daar moet byvoorbeeld binnekort sewe poste vir algemene werkers vir Gemeenskapsdienste in Aberdeen adverteer word. Hierdie poste sal egter nie as Aberdeen-poste adverteer word nie maar wel as DBLNM-poste soos versoek. Inwoners van alle dorpe binne die munisipale area sal dus kan aansoek doen.
Die munisipale werknemer is van mening dat die opstande "gedryf word deur 'n derde mag" en dat die eise ongegrond is. "Hulle eise is mal. Hulle sê ons het beloftes gemaak maar ons het nie."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’