GRAAFF-REINET NUUS — Voormalige Oudtshoorn-munisipale bestuurder, Martin Noël Pietersen is vyf jaar gevangenisstraf opgelê vir die oortreding van die munisipale finansiële bestuurswet.
Vonnisoplegging het Vrydag 31 Maart plaasgevind.
Pietersen - wat tot Desember 2016 nog die munisipale bestuurder van die Dr Beyers Naudé-munisipaliteit in Graaff-Reinet was, maar na sy skuldigbevinding op vyf aanklagte met volle voordele geskors is hangende die uitslag van sy vonnisoplegging - het aangevoer dat sy reputasie, roeping en professionalisme belaster is en dat hy beslis nie die saak daar sal laat nie.
'n Versoek van Pietersen se regsverteenwoordiger, adv Jerome Pietersen om aansoek om verlof om teen die vonnis te appelleer is deur streeklanddros Marilyn Cannon van Kaapstad met borgtog van R5 000 aan Pietersen toegestaan. Indien die aansoek onsuksesvol is moet hy by die klerk van die hof op Oudtshoorn aanmeld.
Pietersen het na die vonnisoplegging ‘n perskonferensie gehou. “Ek sal nie stilsit om my naam skoon te kry nie al verloor ek ook alles wat ek het.”
Streeklanddros Cannon het bevind dat nadat hy in 2010 heraangestel is as munisipale bestuurder van Oudtshoorn, hy sy posisie misbruik het toe hy 'n konsultasie firma, IBR, aangestel het tot voordeel van homself en/of Ian Kenned, eienaar van IBR.
Meer as R2 miljoen is tussen Oktober 2010 en Junie 2011 aan Kenned uitbetaal.
Hy is ook daaraan skuldig bevind dat hy gefaal het om sy pligte as rekenpligtige amptenaar na te kom, deurdat hy nie stappe geneem het om nuttelose en vrugtelose uitgawes te verhoed nie, en gefaal het om die nodige stappe te neem deur toe te sien dat die munisipale voorsieningsketting beleid geimplimenteer en op 'n regverdige, deursigtige, kompeterede 'n koste-effektiewe wyse toegepas word.
Hy het ook gefaal om behoorlike finansiële rekords by te hou.
Die landdros het 'n versoek van die verdediging vir 'n opgeskorte vonnis en boete as te gering beskou vir die ernstige misdrywe waaraan Pietersen skuldig bevind is.
Pietersen het tydens 'n perskonferensie na sy vonnisoplegging gesê die sake teen hom is kwaadwilliglik deur die spesiale ondersoekeenheid van die Valke aanhangig gemaak.
“Ek was aangestel om die Oudtshoorn-munisipaliteit reg te ruk en het dit gedoen danksy deeglike en eerlike werk. Dit het tot werkskepping vir ons mense en stabiliteit in die munisipaliteit gesorg,”
“Die landdros speel politiek van die bank af en sy sê ek moenie.”
Adv Max Orban van die kantoor van openbare vervolging was die aanklaer.
ARTIKEL: GARNETT WICOMB
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'