GRAAFF-REINET NUUS - Vanuit Graaff-Reinet word daar daagliks 'n liplekker produk na omliggende dorpe versprei, en die meesterbakster agter hierdie spogproduk is Mixie Goedhals.
Mixie staan op 75-jarige ouderdom nie terug vir enige uitdaging nie.
Tydens Graaff-Reinet Advertiser se onderhoud met haar staan die skottels deeg reeds van vroegoggend af eenkant en rys.
“Ek doen alles self; ek het net hulp in my huis op 'n Maandag en 'n Donderdag, en my man help darem soms om die beskuite op te breek voor dit uitgedroog word.
My wenresep gebruik 'n aartappelplantjie en 'n hopsplantjie, en my resep kom van Somerset-Oos af, waarvandaan ek ook oorsponklik kom,” vertel Mixie in haar kuierwarm kombuis.
Mixie sê dat sy by haar Ouma, Maggie du Plessis, 'n baie ervare bakster, gesien het hoe om gewone boerbeskuite te bak.
Sy gebruik nog dieselfde resep, maar met 'n aanpassing of twee.
Sy bak vier keer per week ses panne beskuit.
"Ek het verlede jaar 1 282 kg meel gebruik, 173 baksels gebak - d.w.s. 1 032 panne - en 12 330 bolletjies gerol en gebak."
Mixie se lekker lang anys- en gewone soetbeskuite bereik kliënte van Jeffreysbaai to Victoria-Wes, en van Kaapstad tot Pretoria.
Hulle is ook by die Kapoet padstal in Willowmore beskikbaar.
Snaaks genoeg word daar nie baie gedroogde beskuite bestel nie. Die meeste mense verkies die beskuit louwarm.
Sy sê dat nie een van haar drie kinders regtig belangstel om die hoë wit beskuite te bak nie. “Hulle verkies om my karringmelk- of growwe beskuit te bak, maar ekself bak dit nét as iemand my spesiaal vra.”
“Ek het om en by in 1975 begin bak, toe ons nog op die plaas gebly het.
Toe ek in 1990 by 'n plaasskool begin skoolhou, het ek net naweke die hopsbeskuite gebak.
Eers het ek met my hande geknie, later met 'n knie-emmer en uiteindelik met 'n elektriese menger.
Ek het in 2013 opgehou skoolhou en toe redelik gereeld gebak, maar die laaste paar jaar het dit baie toegeneem.”
Die gesukkel tydens beurtkrag het hulle 'n paar jaar gelede laat besluit om na sonkrag oor te skakel.
As jy in Graaff-Reinet die reuk van varsgebakte anysbeskuit ruik, moet jy weet: Mixie se deeg is reeds klaar gerys en gebak, en die bollings beskuite staan blinkbruin bo die panne uit.
Dan is daardie beskuite klamwarm, en smullekker - veral met 'n dik laag botter. 'n Mens leef immers net een keer!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’