KAROO NUUS - Leoné Mulder, bestuurder by Huis Welverdiend, vertel dat die grondslagfaseleerders van Hoërskool Jansenville die inwoners by die tehuis op Mandeladag met hul "engeltjiestemme" vermaak het.
"Die nostalgie het hoogty gevier toe al die plaaslike bejaardes herinner is dat hulle ook as kinders, vir 12 jaar lank, Die Arend het omhoog gesweef, 'n sleutel sy simbool, gesing het! Die windpomp het ook baie kosbare herinneringe teruggebring," vertel Mulder.
"Ons het saam met die inwoners altesaam 67 verskillende emosies ervaar!"
Die talentvolle gumboot dansers van Hoërskool Jansenville het ook opgetree en Mulder sê daar is omtrent ge-oe en ge-aa. "Niemand kon glo dat hulle so vlugvoetig is nie!" Op Vrydag 19 Julie het die einde van 'n baie bedrywige week by Huis Welverdiend aangebreek.
"Huis Welverdiend het 'n spanpoging aangewend om vir Jansenville te stem as Kwêla se Dorp van die Jaar. Die afgelope week was 'n week van saam kuier, saam lag en saam kla oor af rûe en stywe nekke! Ongelukkig het ons nie ingeweeg voor die tyd nie, maar daar is ordentlik 'vreetsaam' verkeer," sê sy.
"Stephen Kinghorn het al vroeg Maandagoggend 200 simkaarte - sommiges met lugtyd op - by Huis Welverdiend kom aflewer. Baie dankie aan elkeen in Jansenville wat lugtyd geskenk het," sê Mulder.
"Laaste maar nie die minste nie!" vertel Mulder, "was dat die personeel van Departement Korrektiewe Dienste van hul manne gebring het om die tehuis se vensters mooi skoon te was. Nou kyk ons weer na 'n buitewêreld vol beloftes."
Daar is groot werksaamhede aan die gang by Huis Welverdiend se splinternuwe huiswinkel en die Graaff-Reinet Advertiser deel eersdaags hierdie opwindende verwikkelings met lesers.
Spesiale erkenning gaan aan Jansenville Landbouvereniging, Denron Koetaan, Marnus Vermeulen, Gail Nell, BKB en vele ander. En dan 'n groot dankie aan almal wat help stem het - Rhona Koetaan, Nieta Slabbert, Aldoné Bruce en Danielle Raynders.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’