GRAAFF-REINET NUUS - Verlede week se artikel in Graaff-Reinet Advertiser oor die tenders vir die opgradering van toilette in die Dr Beyers Naudé-munisipale area, wat aan Platinum Construction toegeken is, het groot opspraak gewek.
Talle inwoners van Aberdeen, Rietbron, Nieu-Bethesda en Willowmore het hulself daaroor uitgespreek.
Kenneth van Niekerk, gemeenskapsaktivis van Rietbron sê dat daar wel aan die toilette in Rietbron gewerk is, maar dat die gemeenskap glad nie tevrede is met die werk wat gedoen is nie.
Gemeenskap ontevrede
"Hulle was hier, maar binne minder as twee weke was hulle klaar en weg," sê hy. Volgens Van Niekerk het hulle letterlik net nuwe toiletbakke opgesit en boonop kla die gemeenskap nou oor hierdie toiletbakke omdat hulle lek.
Romano Davidson, gemeenskapsaktivis van Nieu-Bethesda, waar daar ook aan die toilette gewerk is, sê die gemeenskap van Nieu-Bethesda is net so ontevrede met die waterbakke omdat dit so lek.
Volgens Davidson het hulle dit onder die burgemeester, Willem Safers, se aandag gebring tydens sy uitreik na die gemeenskap op 14 Oktober, en versoek dat die water-bakke vervang moet word.
Beide Van Niekerk en Davidson sê hulle kan nie glo dat die munisipaliteit soveel geld vir sulke swak kwaliteit werk kon betaal nie.
Loock skets 'n ander prentjie
Volgens raadslid Ewald Loock is die situasie egter glad nie so sleg soos dit voorkom nie. "Die totale waarde van die toiletprojek is R24 990 756 oor 'n periode van drie jaar.
"Die fondse daarvoor is afkomstig van die waterinfrastruktuur-toelaag van die departement van water en sanitasie," verduidelik hy.
"Vir die 2023/2024 finansiële jaar het die munisipaliteit R11 041 412 van hierdie toelaag ontvang. Verskeie tenders is uitgesit vir die verskillende dorpe waar toilette opgradeer moet word omdat die afstande verskil en ook omdat omstandighede verskil."
Altesaam 1 029 toilette opgegradeer
Al die tenders is wel aan Platinum Construction toegeken maar die volle R11 041 412 is, volgens Loock, nog nie aan hulle oorbetaal nie.
"Die Dienslewering en Begroting Implementeringsplan is baie misleidend. Dit dui bloot aan dat die munisipaliteit hierdie bedrag gedurende die 2023/2024 finansiële jaar vir die implementering van die projek ontvang het, en dat daar teen die einde van die finansiële jaar, 30 Junie 2024, altesaam 556 toilette opgradeer is.
Dit beteken nie dat die bedrag aan die kontrakteur betaal is nie," verduidelik hy.
"Die kontrakteur word betaal soos wat die werk gedoen word en deur die konsultant wat verantwoordelik is vir kwaliteitsbeheer, MJM Consulting Engineers in hierdie geval, afgeteken word.
"Teen die einde van Junie is 556 toilette opgradeer en intussen, vanaf einde Junie tot einde September, nóg 473. Dit beteken dat daar teen 30 September altesaam 1 029 toilette in Rietbron, Nieu Bethesda en Klippaat opgradeer is en dit is waarvoor die kontrakteur betaal is. Die res van die geld lê nog net so binne-in die munisipaliteit se rekening," sê hy.
Tot 8 000 toilette kan gedoen word
Hy voeg by dat daar aanvanklik, in terme van die besigheidsplan, voorsiening gemaak is vir die opgradering van 6 500 toilette, maar dat daar teen die prys wat die toilette nou opgradeer word tot 8 000 toilette gedoen sal kan word.
Loock voeg by dat die projek oor die algemeen baie suksesvol uitgerol is in Rietbron waar hy die wyksraadslid is.
Daar was wel enkele toilette wat gelek het, maar hy het verneem dat dit intussen herstel is en dat die waterverbruik sedertdien met ongeveer 20% verminder het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’