HOFMEYR NUUS - Die "Dag van die Rally" het aangebreek.
In enkelgelid het stringe blinkskoon bakkies, 120 in totaal, om 08:00 op 7 Mei opgedaag vir registrasie by die Hofmeyr Sportklub, waar sekretaresse Kim Jordaan hulle ingewag het.
Dis ook sommer net hier waar Loerien Jordaan, die bestuurder van Hofmeyr se OVK, die deelnemers laat inval het vir hul eerste vraelys.
Spanne moes twee-twee of meer persone per voertuig inskryf.
Lede van Hofmeyr Landbouvereniging moes iemand van buite nooi om hulle te vergesel.
Dié Rally op Hofmeyr is geen wedren nie. Oumanne, jongmanne, manne met planne, manne met kanne in die hanne, pasgetroudes, ooitjies, ooitjies met plooitjies, ougetroudes, ongetroudes, pare en onpare het ingeskryf. Sommige spanne het sommer die hele familie ingeskryf, en ander het genoeg vriende ingelaai om die dag mee te maak.
Daar was altesaam 59 spanne, en hoewel drie volledige etes by die kaartjie ingesluit was, het elke span darem gesorg vir peuselkossies soos biltong en gebottelde toebroodjies (bier) vir waar dit nodig sou raak.
Die spanne het van 09:00 af twee-twee vertrek.
Die begin- en eindpunt was by die sportklub, maar elke span se twee voertuie het verskillende sirkelroetes gevolg.
Die reuse logistiese organisasie is deur die rallykomitee onder leiding van voorsitter Ettienne Roux, sekretaresse Kim Jordaan, en die borge onderneem.
Drie-en-twintig borge het stalletjies op sewe plase beman, waar die deelnemers interessante vraelyste en aktiwiteite moes voltooi.
Die halfpadmerk was by Karoo River Rafting, waar die deelnemers op die wal van die Brakrivier hul middagete kon nuttig nadat hulle al die vraelyste en aktiwiteite vir die punt afgehandel het.
Boere was beïndruk met die nuwerwetse elektriese reënmeter, veerpyltjiekampioene is maklik uitgeken waar deelnemers moes pyltjies gooi om pryse te wen, somme was aan die orde van die dag by die sonkragstelsels, geweerteleskope het groot belangstelling gelok, en deelnemers se kennis van spilpuntratkaste en doseermiddels is in 'n vasvra getoets.
Die manne se gholftegnieke is tot die uiterste beproef (want Hofmeyr het nie 'n gholfbaan nie) waar drie balletjies in 'n sirkel ingeslaan moes word.
Spilpunte, veevoere, skape, handelsbanke en trekkers was ook by stalletjies betrokke, en dan kon deelnemers hul saag- en hamervernuf toets. 'n Groot uitdaging was die agteruitstoot met 'n wa en trekker, waar die 13-jarige Liam Hattingh 'n toekenning ontvang het as die jongste deelnemer wat dit suksesvol kon doen.
Onder die dames het Sanet Coetzer gewys hoe dit gedoen moet word, terwyl Simon Jansen en Dewald Opperman die beste punte behaal het tussen die manne.
Bakkies - vreemd genoeg meestal wit - was oortrek met 'n dik rooi Hofmeyrstoflaag toe hulle laatmiddag weer by die eindpunt opdaag. En dadelik het die groot gesels begin.
Borge het heel laaste opgedaag, want vraestelle moes eers gemerk word. Dié wat eerste opgedaag het, het toe al die tyd 'n punt misgery.
Blou span 14 was een van hierdies wat moes omdraai om die vraestel te gaan voltooi.
Die eindpunt was vir sommige spanne effe verder, want 'n nie-verpligte stop by die immergewilde Victoria Boetiek Hotel was 'n effense oponthoud, maar hulle het daren in goeie gees van daar af teruggekeer.
Dit is natuurlik vanselfsprekend dat die spanne wat vroeër by die eindpunt opgedaag het, minder langs die pad gekuier het.
Die fees en prysuitdeling, ter afhandeling van die geleentheid, is in die Sportklubsaal op Hofmeyr in gereedheid gebring.
Daar het Kim Jordaan die leiding geneem, met Karen Fletcher as bekwame regterhand en Marietjie Steyn as assistent.
Die drie het die hele oggend spandeer om tafels te dek en te versier, en met die aandete te begin.
Deur die loop van die middag het medewerkers opgedaag om te help met die voorbereiding van die aartappels, die noedelslaaie, biefstuksouse en tuisgebakte brode. Die kleinspan het trapmotorfietsies saamgebring en resies op die tennisbaan gejaag. Toe die son sak en die wêreld afkoel, het hulle na die lang voorstoep van die saal geskuif.
Die vure is vroeg aangesteek ter voorbereiding vir die biefstukbraai wat na die prysuitdeling aangebied sou word.
Daar is geen algehele wenners aangewys nie, aangesien die borge elkeen by hul eie punt 'n prys aan die wenners by die prysuitdeling toegeken het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’