GRAAFF-REINET NUUS - 'n Kriminele saak is onlangs teen 'n werknemer van die Dr Beyers Naudé-munisipaliteit geopen weens haar versuim om verantwoordelikheid te neem vir die rioolvloei van haar huis na haar buurvrou se huis in Jansenville.
Haar buurvrou sit met haar hande in die hare oor die situasie omdat dit nou al vir so lank aangaan en 'n geweldige impak het.
Rioolwater
"Dit gaan nou al vir vyf jaar lank so," vertel sy. "Die rioolwater loop letterlik onder die buitegebou deur, soms elke dag, die hele dag, afhangend van die gebruik langsaan.
"So drie weke gelede het ons gaste oorgenooi vir 'n braai, maar nog voordat ons die vuur kon opsteek, het die rioolwater begin loop en nie weer opgehou nie."
Volgens haar is die grond al so versadig dat die rioolwater nie eers meer behoorlik kan verdamp nie. "Die hele wêreld bly nat en die mure begin al vrot soos wat die water daarin opstoot," sê sy moedeloos.
Aanmanings
Volgens die munisipaliteit se gesondheids-inspekteur, Babalo Mabhoza, het hy die kriminele saak teen die betrokke munisipale werker al 'n geruime tyd gelede aanhangig gemaak nadat sy versuim het om te voldoen aan die nakomingsbriewe wat hy vir haar gestuur het. Dinsdag 15 Oktober het hy navraag gedoen oor die vordering met die saak, en die ondersoekbeampte het bevestig dat die oortreder op waarskuwing vrygelaat is. Die saaknommer is aan Graaff-Reinet Advertiser verskaf, maar teen druktyd het die woordvoerder van die polisie nog nie op die navraag rakende die status van die saak gereageer nie.
Septiese tenk
Intussen het die munisipaliteit se ingenieur, Vovo Mbanyana, gereël dat die septiese tenk vroeg verlede Woensdagoggend leeggemaak moet word en sedertdien het daar gelukkig nog nie weer rioolwater opgedam nie. Die munisipale amptenare was egter huiwerig om dit te doen aangesien die oortreder versuim het om 'n betaling te maak toe haar septiese tenk voorheen leeggemaak is. Sy het, volgens die munisipale amptenare, alreeds groot skuld by die munisipaliteit en boonop is daar 'n saak teen haar omdat sy met haar elektrisiteit gepeuter het.
Gesondheidsrisiko
Raadslid Mandy Deyzel is besorg oor die gesondheids- en omgewingsrisiko's wat hierdie situasie inhou. "Die polisiestasie is net skuins oorkant die pad en daar is baie kerke binne 'n radius van 50 tot 100 meter. Die publiek besoek hierdie instansies en kan baie maklik siektes optel," sê sy. "Die vrou se septiese tenk is nou alreeds twee keer gratis leeggemaak net om verligting vir die bure te bring. Dit is baie onregverdig, want dit sal beslis nie vir jou of vir my verniet gedoen word nie."
Volgens die munisipale amptenare is al die moontlike maniere om die oortreder te oorreed om verantwoordelikheid vir haar eie rioolafval te neem al uitgeput, maar sonder sukses. Daarom is hulle van mening dat die wet nou sy loop moet neem.
Geen kommentaar
Graaff-Reinet Advertiser het die betrokke munisipale werker telefonies gekontak, maar sy het nie die oproepe beantwoord nie. 'n Skriftelike versoek vir kommentaar het ook onbeantwoord gebly.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’