Update
KAROO NUUS - Die drie huisbrande in Graaff-Reinet wat in minder as 'n week die lewens van vier mense geëis het, het Eskom en beurtkrag direk in die spervuur geplaas.
En bo en behalwe die brandgevaar wat beurtkrag inhou, is 'n brandweerman boonop deur inwoners by een van die brande aangeval.
Twee wonings is op 6 September en een woning op 11 September in onderskeidelik Riemvasmaak, Chris Hani en Umasizakhe in puin gelê. Daar word gespekuleer dat minstens een van die brande deur 'n kers tydens beurtkrag veroorsaak is.
Publiek val brandweerman aan
Die Advertiser het 'n navraag aan die DBNPM gestuur oor die vlaag huisbrande en met skok verneem van die aanval op 'n brandweerman.
Munisipale woordvoerder, Vuyisa Jantjies, sê die vlaag huisbrande het kommer laat ontstaan oor veiligheid - ook die veiligheid van DBNPM se brandweermanne. "'n Brandweerman is Maandag 11 September in Chris Hani deur lede van die publiek aangeval omdat hulle glo te lank geneem het om by die toneel op te daag," sê Jantjies. Gelukkig is die brandweerman nie in die voorval beseer nie.
Hy sê dat die brandweerdienste kan bevestig dat vandat hulle die oproep ontvang het, totdat hulle op die toneel aangekom het, dit sleg 8 minute geneem het. "Hierdie gedrag is nie net onaanvaarbaar nie, maar verhoed ook dat brandweermanne hul werk kan doen. Ons wil die publiek versoek om nie die werk van die brandweermanne moeiliker te maak as wat dit reeds is nie." Jantjies sê die polisie moes ingryp om die brandweermanne te beskerm sodat hulle die vuur kon blus.
Riemvasmaak: drie sterf
Twee susters, Chevonne (9) en Melrihana (12) Roberts is op 6 September omstreeks 21:00 in hul ouma se sinkhuis in Riemvasmaak, doodgebrand. Die jonger suster (5) en ouma, Martha Roberts, kon dit betyds uit die huis maak, maar Martha is op 11 September in die Nginza-hospitaal in Gqeberha, oorlede. Die 5-jarige word nog vir brandwonde en rookinaseming behandel.
Die ouers van die kinders, wat op 'n plaas by die Pearston-afdraai werk, het dieselfde aand van die brand te hore gekom en is inderhaas na Riemvasmaak. Met hul aankoms op die toneel was die vuur reeds byna geblus. Die ouma en 5-jarige is toe na die Midland-hospitaal geneem en daarna na Nginza-hospitaal oorgeplaas.
Albei die oorlede sussies was leerders van Graaff-Reinet Primêr. Daar word vermoed dat die brand die gevolg is van 'n kers wat omgeval het, maar die oorsaak moet nog bepaal word. 'n Gedenkdiens is gister, 13 September, by Graaff-Reinet Primêr vir die sussies gehou.
Umasizakhe: geen sterftes
Twee broers, Hendrik (45) en Freddy Sweli (55), sê hulle is dankbaar niemand is in die huisbrand op hul erf dood nie. Hulle het ook verlede Woensdag 6 September alles verloor toe hulle sinkhuisies vlam gevat het. Die twee huisies was teenmekaar gebou, 'n paar meter weg van die baksteen hoofhuis. Hulle vermoed dat die seil wat oor Freddy se sinkhuis gegooi is om te keer dat dit nie inreën nie, vlam gevat het nadat sy vrou 'n vuur in die boula gemaak het om brood te bak. Die wonings het sewe mense gehuisves, vier by Hendrik en 3 by Freddy. Hendrik vertel dat hy geslaap het toe sy skoonsuster hom en sy twee kinders uit die sinkhuis kom sleep het. Hy sê dat die brandweer daar aangekom het toe alles reeds in vlamme was.
Freddy sê dat die vuur wat sy vrou gemaak het nie eens so groot was nie, maar dat hy vermoed van die vonke op die dak gespat het. Lelo Tini het vir hulle iets geneem om te eet.
Chris Hani: een sterf
'n Brand het Maandagoggend 11 September rondom 07:00 in die baksteenhuis waarin Betty Kruger (96) gewoon het ontstaan. Haar kleindogter, ook Betty Kruger, vertel dat sy reeds by die werk was toe iemand haar laat weet dat die huis brand. Sy het haar na die woning gehaas, maar toe sy daar aankom, was alles reeds aan die brand.
"My ouma was blind en kon nie loop nie. Ek het haar doek omgeruil voordat ek gaan werk het en gevra dat iemand vir my 'n ogie oor haar moet hou." Betty sê sy vermoed 'n kortsluiting by die kragboks was die oorsaak.
DBNPM oor reaksietydperk
Volgens Jantjies is die reaksietyd van die brandweer ongeveer 10 min vandat hulle 'n noodoproep ontvang tot hulle by 'n toneel opdaag. "Die probleem is dat sinkhuise uit geweldig baie vlambare materiaal bestaan. Dit neem ongeveer vyf minute vir 'n sinkhuis om inmekaar te sak na 'n brand buite beheer raak," sê Jantjies. "Wanneer ons brandweermanne uitstuur, moet hulle nie nog boonop bontstaan om hulself te verdedig nie. Ons wil die veiligheid van ons brandweer sowel as die publiek verseker. Wanneer die brandweer vra dat die publiek moet terugstaan, moet hulle hul samewerking gee."
Jantjies het bevestig dat 'n bewusmakingsveldtog oor huisbrandveiligheid gaan plaasvind en dat besonderhede op sosiale media sal verskyn.
Sien huisbrandveiligheidswenke verskaf deur die DBNPM-brandweer:
Huisbrandveiligheidswenke van die DBNPM-brandweer:
- Hou vuurhoutjies buite bereik van kinders.
- Moenie elektriese muurproppe oorlaai of elektriese koorde onder matte laat loop nie.
- Wees versigtig met draagbare hitte genererende toestelle soos strykysters, ketels en verwarmers.
- Hou vlambare materiale weg van hittebronne.
- Inspekteer jou elektriese toue en toestelle vir skade.
- Maak seker jy het 'n werkende brandblusser in jou huis.
- Beplan en oefen 'n brand ontsnaproete.
- Installeer rookverklikkers in jou huis as jy dit kan bekostig.
Vorige artikels:
Martha Roberts wat ses dae na die brand in Riemvasmaak in die Nginza-hospitaal in Gqeberha oorlede is. Foto: Verskaf
Links is Hendrik Sweli (45) en sy broer Freddy Sweli (55) by die puin van hul wonings in Umasizakhe. Foto: Sonia Wahl
Raadslid Andile Nofemele en Betty Kruger by die huis in Chris Hani waarin haar ouma, ook Betty Kruger, doodgebrand het.
Oorblyfsels na die brand in Riemvasmaak waarin twee susters doodgebrand het. Foto: Neco Bokwe
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’