GRAAFF-REINET NUUS - ‘n Brand het gisteraand, 6 September, die lewe van twee susters, onderskeidelik 9- en 12-jaar oud geëis.
Die sinkhuis in Riemvasmaak, Graaff-Reinet het omstreeks 21:00 begin brand en het die jonger suster (5) en die ouma van die vuur ontsnap. Albei die susters was leerders van Graaff-Reinet Primêr.
Nathan Jacobs, raadslid van wyk 7, sê dat die brand vermoedelik as gevolg van ‘n kers wat omgeval het, ontstaan het. Die oorsaak van die brand sal later bekendgemaak word.
Jacobs was gisteraand self op die toneel terwyl die brand gewoed het. Hy vertel dat die ouers van die twee susters by die toneel aangekom het toe die brand reeds geblus was. Die vader is werksaam op ‘n plaas by die Pearston-afdraai op die Gqeberha-pad. Met hul aankoms het hulle hul jongste dogter (5) en haar ouma na die Midlands-hospitaal geneem en is hulle ‘n rukkie later oorgeplaas na Gqeberha-hospitaal waar hulle behandeling vir brandwonde en rookinaseming ontvang.
Jacobs sal vandag weer met die getraumatiseerde vader gesels om hulp aan te bied met die herstel van die huis en met begrafnisreëlings.
Die Advertiser het ‘n navraag aan die polisie gerig en wag vir terugvoering.
Foto’s: Neco Bokwe
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’