CRADOCK NUUS - Die wie's wie en hulle gades het Vrydagaand, 30 Augustus, by The Palms in Cradock byeengekom vir 'n aand van pret en plesier, asook om sonderlinge ondernemings en mense in Cradock te vereer.
Sowat 240 gaste het die 360 Gala bygewoon wat deur die Cradock-besigheidsforum aangebied is.
RSG se Jacques Arendt het as klankingenieur opgtree.
Talle besighede het items geborg vir die veiling en gelukkige trekkings is ook gehou.
Junayda Abrahams (14) van Cradock Hoërskool het gaste betower met haar sterk sangstem, terwyl die dansers van Aerial Arts en Paradox Collectives beïndruk het met hul soepel bewegings in hangende hoepels. JJ van der Watt was die afslaer en Sonnika du Plessis van Sonskyn-fotografie in Graaff-Reinet het die geleentheid op kamera vasgelê. Amuse het fotohoekies installeer en Riette-dekorontwerp het die versierings gedoen.
Toekennings:
- Een uit 'n miljoen: die beste kollega in Cradock - Habana van der Berg van OVK
- Held/Heldin: persoon wat altyd hulp verleen - André Thompson
- Kulinêretoekenning: persoon of besigheid wat die beste etes bedien - Kommetjieskroeg en Restaurant, Marius Thompson
- Hoogstaande dienslewering: besigheid met die beste dienslewering - Bergman en Adam-oogkundiges, Jack Adam
- Mees toekomsgerigte besigheid: toegeken aan 'n persoon wat buitemuurse- en kulturele aktiwiteite aanbied - Hanlé Nel, skoolhoof van Baroda DRC Primêr
- Beste Baas - Karin Swart, skoolhoof van Cradock Voorbereiding
- Kampioentoekenning: besigheid wat skole ondersteun - Kommetjieskroeg en Restaurant
- Goue Appeltoekenning: aan besigheid of persoon wat die dorp se belange en vooruitgang op die hart dra - Karoo-makelaars
- Kollig kampioentoekenning: aan die sosiaalste persoon in Cradock - André Thompson
Naamsverandering:
Wilhelm Smit, voorsitter van die besigheidsforum, het aan Graaff-Reinet Advertiser gesê die forum se volgende taak is om die naamsverandering van Cradock na Nxuba aan te spreek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’