PLAASLIKE NUUS - ’n Boervrou is Saterdagoggend in haar huis op 'n plaas naby Cradock aangeval en vasgebind. Twee misdadigers het vuurwapens en geld by haar gesteel en te voet gevlug.
Nadat die boervrou haarself kon bevry is daar ’n massiewe soektog van stapel gestuur.
Hommeltuie, ’n helikopter en voertuie vanuit alle oorde was binne minute op die toneel.
Die soektog het vrugte afgewerp en twee mans is Sondagaand om 17:45 vasgetrek. Van die gesteelde goedere is ook teruggevind.
Die vrou se naam word weerhou op haar en haar gesin se versoek.
Die twee verdagtes verskyn môre in die hof op Cradock.
Respek vir misdaadtoneel
Die polisie het ná die aanval ’n versoek aan die publiek gerig om sekere riglyne by misdaadtonele te volg.
Onthou dat bewyse vir die SAPD van uiterste belang is, ongeag die grootte van die toneel. Hoe meer persone op die toneel opdaag, hoe vinniger word die bewyse vernietig. Die K9-eenheid se honde kan dan ook nie meer die reuke optel wat nodig is om die misdadigers op te spoor nie.
Die eerste persoon op ’n misdaadtoneel moet eerstens toesien dat almal veilig is. Mediese noodgevalle moet aangemeld word. Geen ander persone mag op die toneel toegelaat word totdat die SAPD opdaag nie. Intussen kan daar vir bewyse van hoe toegang tot die woning verkry is, gesoek word.
Slaan ag op verdagtes
Let ook op na moontlike verdagtes se kleredrag wanneer hulle dalk in jou omgewing opgemerk word, en gee die inligting dienooreenkomstig aan die soekgeselskappe. Verskaf ook hul name indien hulle aan jou bekend is.
Die polisie waardeer hulp van buite, maar daar moet steeds op die bogenoemde gelet word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’