CRADOCK NUUS - Gwen en Danie Gerber van Cradock het onlangs op 'n opwindende vonds in 'n Mosselbaaise winkel afgekom - die vinielplaat wat in 1966 van die Cradock Boys High se orkes gemaak is.
Wat die vonds nog meer besonders maak, is dat die plaat nog die handgeskrewe naam van die eertydse eienaar, Richard Wienand, op het.
Richard Wienand was 'n elektrisiën met sy eie besigheid in Cradock. Sy vrou was vir baie jare die sekretaresse van die Hoër Handelskool op die dorp.
Die destydse Cradock Boys High School en Rocklands Hoër Meisieskool/Rocklands Seminary for Girls het in 1972 saamgesmelt en staan vandag as Cradock Hoërskool bekend.
Charles Garth, voorsitter van die alumnivereniging van Cradock Hoërskool, sê dat daar in 2015 'n reünie vir die eertydse spogorkes gehou is waartydens die oudleerder en orkeslid, Theuns van Schalkwyk, as seremoniemeester opgetree het.
Daar word nou gepoog om die vinielplaat te herproduseer deur gebruik te maak van die nuutste tegnologie, sodat oudleerders van die skole wat hierdie orkes en sy opvolgers nog kan onthou, weer daarna kan luister.
Plaaslike inwoner Gerhard Greyvenstein is reeds besig met hierdie reuse projek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’