HOFMEYR NUUS - 'n 17-jarige van Twinsville, Phumelelo Miso, is verlede week dood na die opslaanhut waarin hy gewoon het afgebrand het.
Volgens kapt. Namla Mdeleni, woordvoerder van die Komani-polisiestasie, het die seun verskeie brandwonde opgedoen en het aan sy beserings beswyk.
"Miso het geslaap toe sy huis aan die brand geraak het. Hy is na Cradock-hospitaal geneem waar hy gesterf het. 'n Geregtelike ondersoek word deur Hofmeyr SAPD gedoen om die oorsaak van die brand te bepaal."
Volgens Twinsville Primêr se hoof, Chalaine Fleurs, was Miso 'n saggeaarde kind.
"Hy was 'n goedgemanierde en wel opgevoede jongman. Na voltooiing van sy gr. 7 jaar by Twinsville, kon hy nie by ander skole toelating kry nie. Dit het sy toekomsvisie 'n ernstige knou gegee. Ek onthou hom só goed, en die personeel by Twinsville se harte is seer," het sy gesê.
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'