GRAAFF-REINET NUUS - Die Cradock-landbougenootskap kyk met verwondering terug na die 160ste landbouskou wat die afgelope naweek, 18 tot 19 Oktober, op die skouterrein, langs die Groot Visrivier, aangebied is.
Die skou was die grootste wat ooit op die terrein aangebied is en groot getalle deelnemers het ingeskryf onder die onderskeie afdelings.
Hierdie skou is 'n streekskou vir talle van die afdelings.
Die pawiljoene langs die arena was volgepak met toeskouers en stalletjies het elke beskikbare ruimte gevul.
Die stalle was ook vol tentoonstellers se uitmuntende perde, en dit was oor die algemeen 'n miernes van bedrywighede. Inskrywings vanuit talle omliggende dorpe en groter sentra was aan die orde van die dag.
Lewenslange bydrae
Talle hoogtepunte het die skou gekenmerk, maar die skougenootskap se erkenning aan Gert Lötter Senior (87) vir lewenslange bydrae en betrokkenheid by die perde-afdeling was beslis die hoogtepunt.
Gert was bevoorreg om sy kinders en kleinkinders by die oorhandigingseremonie te hê.
Monty Gadd
Die jaarlikse Monty Gadd-toekenning aan 'n ruiter en 5-gang kampioensaalperd is dié geleentheid waarna die perdebeoordelaars uitsien, want "mooi was nog nooit lelik nie," het een van die beoordelaars gesê.
Slegs ruiters bo 18 mag deelneem. Monty Gadd was 'n befaamde ruiter wat in 1938 besef het dat net 'n puik ruiter 'n puik perd kan hanteer om die toptelling te komplimenteer.
Dié vereiste vir hierdie kompetisie is dus nie net 'n puik ruiter op 'n prag 5-gangperd nie, maar samewerking en 'n onderlinge verstandhouding tussen ruiter en perd moet duidelik sigbaar wees.
Die eerste Monty Gadd-toekenning by Cradock-skou is in 1938 aan 'n ene mnr. Trollip en sy hings Springkaan toegeken.
Die 84ste Monty Gadd-wenner is op 18 Oktober teen vroegaand bekendgemaak en 'n trotse Bennie Lötter (30) en sy pragperd, Gracelands Ben Hur, het weer hierdie jaar met die louere weggestap. Lötter het die toekenning vir die 3de keer ontvang.
Lusernskou
Die lusernskou het die volgende uitslae opgelewer:
- 1ste Kobus Marais van Hofmeyr ontvang die GWK-wisseltrofee.
- 2de Groenkrag Boerdery van Hofmeyr.
- 3de Phillie Schoombee van Conway (Tussen Middelburg en Cradock).
Die André Bezuidenhout-trofee vir Beste NLQI indeks is aan Matt Philps, van Hofmeyr, toegeken.
Slaglammers
Gert Lötter en seuns, van Tarkastad, is weer as algehele wenners by die slaglam-kompetisie op 18 Oktober benoem. Lötter het beide 1ste en 2de plekke behaal by die enkelkarkas-inskrywings met 2 karkasse wat 95.77 en 93.17 punte behaal het.
By die slaglamgroepinskrywings behaal Lötter ook 'n eerste plek met 90,95 punte en 'n vierde plek met 79,33 punte.
Wessel Jansen en Wessel Jansen het as beoordelaars opgetree.
Perde
- Groot kampioen 3-gang, Bullet's Assignment vertoon deur Carlos Tutton, eienaar PC Ferreira.
- Groot kampioen onder saal: Kalista Lord Murray, vertoner Izaan Mynhardt, eienaar Colette Botha.
- Groot kampioen enkeltuig: My French Rose, vertoon deur Ted Groenewald, eienaar Spadone.
- Ope groot kampioen 3-gang plesierperd: I'm truly magnificent, vertoon deur Veliska Lombard, eienaar Veliska Lombard.
- Groot kampioen parkperd: McQueen, vertoon deur Koekie de Villiers, eienaar Studgate II.
- Groot kampioen 3-gang Kinderryperd: Whipper, vertoon deur Megan da Camara wat ook die eienaar is.
- Groot kampioen 5-gang: Duke's Legacy vertoon deur Gert Lötter: eienaar Bennie Lötter.
- Groot kampioen siertuig: Secret Night, vertoner Ted Groenewald, eienaar Spadone.
- Groot Kampioen 5-gang plesierperd: Beaus New Start, vertoon deur Gert Lötter en hy is ook die eienaar.
- WP Champion double harness: Kalou Song, vertoon deur Nic Hanekom, eienaar Kippie Louw.
Groot kampioen 3-gang: Thunder Cloud vertoon deur Anton Derrison, eienaar Tokkas van Heerden (Viewes saalperd-stoet). - WP Champion Single Harness: Kalou Super Smart vertoon deur Yusuf van die J-force Stud.
Groot kampioen 5-gang: On Cloud Nine, vertoon deur Koekie de Villiers, vanuit haar Studcor-stalle.
Skape
Geen uitslae was beskikbaar vir SA vleismerino-, merino-, en angoras met ter perse gaan nie.
Die beste groep van 4 uit Gert Lötter en seuns se krale.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’