Update
GRAAFF-REINET NUUS - Minister van Vervoer Barbara Creecy sê die feit dat 1 502 mense gedurende die 2024/25-feesseisoen op die land se paaie dood is, "is uiters betreurenswaardig en meer so omdat dit die vordering van vorige jare omkeer".
Creecy het gister, 20 Januarie, die padstatistieke van die laaste maand-en-‘n-half met Suid-Afrikaners gedeel.
Sy het ook haar meegevoel betuig aan die families wat geliefdes in hierdie tydperk verloor het en sterkte toegewens aan almal wat beseer is.
Voetgangers 41% van sterftes
Die aantal sterftes verteenwoordig 'n jaar-tot-jaar toename van 5,3% (70) en 'n 4,2% (50) toename in die aantal ongelukke.
Voetgangersterftes maak 41% van alle padsterftes uit.
"Die boodskap aan voetgangers is duidelik: as jy aan die lewe wil bly moet jy seker maak dat jy geen alkohol inneem voordat jy op roetes gaan stap nie, en sorg dat jy snags sigbaar is en stap in areas wat goed belig is.
Voetgangers moet vermy om oor roetes te slinger, en kruis die paaie by 'n voetoorgange of waar dit veilig is om dit te doen."
Honderde duisende boetes
Byna 1 000 padblokkades is landswyd gehou en 711 184 boetes is uitgereik - 23 607 boetes aan bestuurders wat versuim het om veiligheidsgordels te dra, terwyl nog 16 925 bestuurders beboet is vir die gebruik van selfone en 16 527 voertuie is onpadwaardig bevind; 3 840 individue is vir dronkbestuur gearresteer; 414 bestuurders is in hegtenis geneem vir spoed, waarvan vyf tussen 200 km/h tot bo 240km/h gery het.
Die hoogste spoed was deur 'n BMW sedan opgestel - 245km/h op 18 Desember op die N1 in Honeydew in Gauteng.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’