CRADOCK NUUSEN VIDEO - 'n Minderbevoorregte gemeenskap in Lingelihle, Cradock, is geskud deur die wrede manier waarop twee van hul inwoners dood is.
Die twee jong mans van Pukwanestraat 6173, Siseko Tpakela (32) en Athenkosi Bomvana (31), is omstreeks 4vm op 21 Julie vermoor.
Dít ten aanskoue van gemeenskapslede, wat by 'n nabygeleë huis gekuier het.
Volgens ooggetuies, wat anoniem wou bly, was Tpakela en Bomvana in die huis, toe ongeveer vyf mans dit met petrolbomme bestook het.
"[Tpakela en Bomvana] het na buite geharloop, maar moes terugdraai na die brandende woning, toe die mans hulle met klippe begin gooi het," het die ooggetuie beweer.
Binne die huis het die verswelgende brand hulle genoop om wéér skuiling buite die woning te gaan soek. Die ooggetuies beweer die verdagtes het toe beide Tpakela en Bomvana veelvuldige mes- en kapwonde toegedien.
Albei mans het op die toneel beswyk.
Bomvana se gebroke moeder, Mandlakazi Grimmis, het in 'n toestand van skok, hartseer en ongeloof met die Advertiser gepraat.
"Die seuns was nooit by bendegeweld betrokke nie. Hoekom moes hulle die slagoffers van so 'n wrede aanval wees?" wou sy weet.
Grimmis het die verdagtes as welbekend in die gemeenskap beskryf, en sy beweer dat hulle by bende-aktiwiteite betrokke is. Volgens haar is die vyf verdagtes gearresteer, maar een is weer vrygelaat.
Kyk 'n video hieronder.
Esther Tpakela, Siseko se ma, en Cebokazi Mkosana, Siseko se suster, het die arrestasies bevestig.
Die Cradock-polisie is deur die Advertiser genader, maar geen kommentaar is teen druktyd ontvang nie.
Die huis waarin Siseko Tpakela en Athenkosi Bomvana met petrolbomme bestook is en daarna vermoor is.
Mandlakazi Grimmis in skok oor haar seun, Athenkosi Bomvana, se dood
'Ons bring jou die nuutste Cradock, Karoo nuus'