JANSENVILLE NUUS - Die Whitlock Care Centre in Jansenville is in 2015 geopen om twee erg verstandelik gestremde seuns voltyds te versorg. Dié sorgsentrum is afhanklik van ongeskiktheidstoelaes en die finansiële ondersteuning van famielielede en trusts aangesien die regering geen bydraes maak nie.
Hannatjie Whitlock, eienaar en bestuur van die sorgsentrum, sê dié onderneming word bestuur as 'n onafhanklike, goed georganiseerde nie-winsgewende organisasie en die droom is om dit te omskep in 'n veilig heenkome vir Oos-Kaapse mense met spesiale behoeftes tussen die ouderdomme van 19 en 60.
Die sentrum
Die Whitlock-sorgsentrum het tans 15 inwoners met spesiale behoeftes of wat verstandelik erg gestremd is. Ses voltydse versorgers pas hulle op. Daar is ook 'n voltydse kok.
Hannatjie sê die sentrum is in 'n woonhuis met sewe slaapkamers, vyf badkamers, twee kombuise, kantoor, eet- en TV-vertrek, binnehof en 'n sonstoep. Die groot erf het 'n veiligheidshek en kameras wat 24 uur per dag sekuriteit verskaf.
Die Whitlock Care Centre in Jansenville het onlangs 'n welkome skenking gekry toe Noorsveld Auto en Caltex saamgespan het om skoonmaakmiddels ter waarde van R3 000 aan dié sorgsentrum te skenk. Afgevaardigdes en gaste by die oorhandiging was van links: Thami Marenene, 'n verteenwoordiger van SAWAS-hospitaal, Liesl Alberts, 'n versorger by Whitlock's Care Centre, Vuyani Ngcete, besigheidskonsultant van Caltex, Gerda Loock, kok en versorger by Whitlock's, Hannatjie Whitlock, eienaar van Whitlock'
Die inwoners
Onder die inwoners is die twee Whitlock-seuns wat verstandelik gestremd is en met 'n kapasiteit van 18 maand oue kleuters. Hulle kon nog nooit praat nie en word gevoer, gebad en snags drooggemaak. Hul beddens word ook oorgetrek en hul slaapklere geruil.
Dan is daar die 41-jarige Nico wat in 'n rolstoel gekluister is. Hannatjie sê hy kan glad nie sy bene gebruik nie en as mens baie fyn luister kan hy enkele woorde praat. "Hy word ook gebad en snags wakker gemaak vir 'n toiletbesoek. Hy moet ook gereeld omgedraai word."
Die 53-jarige Christo is 'n downsindroomlyer wat vier jaar gelede van Ladysmith in KwaZulu-Natal af hier beland het.
"Vir die eerste keer in sy lewe is hy sonder sy ma of 'n vreemde plek waar hy moet slaap en aanpas. En dit doen hy baie goed." Hannatjie sê Christo is hy baie liefdevol en hy deel graag drukkies uit.
Die gestremdhede en probleme wissel van inwoners wat bipolêr of outisties is tot diegene wat erge epileptiese aanvalle kry. "Ons het nou 'n voorman van 'n melkplaas met oor die 800 koeie hier wat ná 'n motorongeluk én beroerte nie meer in staat is om vir homself te sorg nie.
"Die jongste inwoner het drie maande gelede van 'n weeshuis in Port Elizabeth hier aangekom met 'n baie slegte geskiedenis. Hy het goed aangepas en toon niks meer van die slegte dinge wat in sy verslag geskryf is nie."
"Ons het ook 'n broer en suster van Algopark in PE wat gereeld van 'n taxi gebruik maak om vir hul ma te gaan kuier. Sy is 'n senior weduwee en het nie ander vervoer nie. Ons hoop en bid nog steeds dat daar mense uit die gemeenskap sal kom en aanbied om hulle 'n rygeleentheid na PE aan te bied."
Hannatjie sê die ma betaal duur om haar kinders elke twee maande te kan sien. "Hulle gaan gewoonlik op 'n Dinsdag en kom weer die Vrydag terug, want dis die taxi's se roetetye."
Die Whitlock Care Centre in Jansenville het onlangs 'n welkome skenking gekry toe Noorsveld Auto en Caltex saamgespan het om skoonmaakmiddels ter waarde van R3 000 aan dié sorgsentrum te skenk.
Hannatjie Whitlock (agter) en Liesl Alberts by die trollie met huishoudelike skoonmaakmiddels wat Caltex en Noorsveld Auto in Jansenville aan die Whitlock's Care Centre geskenk het.
'Ons bring jou die nuutste Jansenville, Karoo nuus'