GRAAFF-REINET NUUS - Inwoners van Dr Beyers Naudé-munisipaliteit is erg ontnugter na hulle verlede week verneem het dat die tariewe vir water en sanitasie onderskeidelik vanaf 1 Julie met meer as 40% verhoog word.
Dit volg nadat die ANC-koalisie in die raad op 31 Mei met 'n meerderheid van twee stemme beslis het om die munisipaliteit se voorgestelde basislyn-verhogings op een slag in werking te stel, en nie stelselmatig soos wat die DA, VF Plus en nasionale tesourie voorgestel het nie.
Die ANC, CSA en EFF het met 13 stemme ten gunste van die onmiddellike implementering gestem terwyl die DA en VF Plus se 11 raadslede gestem het vir die infasering van die verhogings oor 'n tydperk van drie tot vyf jaar.
Volgens die munisipaliteit is hierdie verhogings verduidelik toe die begroting tydens 'n reeks konsultasievergaderings met die gemeenskap bespreek is. Graaff-Reinet Advertiser het met verskeie belanghebbendes gesels en hulle is dit eens dat dit nie die geval is nie.
Die 2023/2024-begroting wat deur die munisipaliteit aan die gemeenskap voorgelê is het die volgende verhogings aangedui: belasting - 8%, water - 5,3%, riool - 5,3%, vullisverwydering - 5,3%, en elektrisiteit - 21%. Hierdie verhogings is ook deur die munisipaliteit gepubliseer.
Die basislyn-verhoging vir water het tot gevolg dat die koste vir 15 kiloliter met R74,61 vanaf R166,21 na R240,82 verhoog word - dit werk uit op R16,05 per kiloliter. Huishoudings wat vir deernishulp kwalifiseer kan aansoek doen vir gratis basiese dienste, maar ander huishoudings word swaar getref.
Diegene wat minder as 15 kiloliter water per maand gebruik sal R16,05 per kiloliter betaal. Plekke soos skole en ouetehuise wat noodgedwonge meer as 15 kiloliter per maand gebruik, sal R36 vir elke ekstra kiloliter betaal.
Die DA en VF Plus beweer dat die persentasie van die basislyn-verhogings nie vooraf aan hulle bekendgemaak is nie, of dat die impak daarvan nie aan hulle verduidelik is nie. Volgens DA-raadslid Ewald Loock het hy die tariewelys eers op Vrydag 26 Mei ontvang.
Camdeboo Development Forum
Die Camdeboo Development Forum sê daar was beslis nie behoorlike konsultasie nie. "Die munisipaliteit moet 'n deeglike beweegrede vir die verhogings aanvoer," sê Daniel Williams, ondervoorsitter. "Hulle moet verduidelik wat die motivering vir die besluit was en hoe hulle by die syfers uitgekom het."
Demokratiese Alliansie (DA)
Loock het ook sy bedenkinge en sê dat verliese in ag geneem moet word tydens kosteberekening. Hy sê die laaste verslag op verliese is vervat in die Artikel 52 verslag wat op 30 Junie 2022 vrygestel is. "Die munisipaliteit het vir 'n jaar lank nie geweet wat hulle verliese is nie, en is daar ook geen berekeninge gedoen nie. Hoe bereken jy jou koste as jy nie weet wat jou verliese is nie?"
People for Basic Rights (P4BR)
Sias Smith, sameroeper van P4BR verwys na die feit dat sekere foute in die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) en begroting uitgewys is en dat beswaar aangeteken is. Volgens hom stem die tariefverhogings wat aan die gemeenskap voorgelê is glad nie ooreen met die verhogings wat goedgekeur is nie. Hy sê die verhogings is aanvaar sonder inagname van die omstandighede van huishoudings net buite kwalifisering vir deernishulp. "Ons verwerp die begroting omdat dit verdere armoede gaan veroorsaak," sê hy.
Residents and Ratepayers Association (GRRPA)
Die GRRPA sê die munisipaliteit moet meer deursigtig wees. Tydens 'n konsultasievergadering het die GRRPA uitgewys dat die 5,3% verhoging in die tarief vir sanitasie soos aangedui in die begrotingsvoorlegging, nie die rand en sent waarmee die tarief vir sanitasie werklik verhoog is, weerspieël nie.
Hulle wys ook uit dat die begrotingsvoorlegging wel aandui dat die verhoging in die tariewe vir water en sanitasie basislyn-verhogings insluit, maar volgens hulle is geen syfers in die vergadering gegee nie. Die GRRPA bevraagteken ook die onmiddellike implementering van die verhogings met verwysing na die feit dat die begrotings-dokument aandui dat hierdie verhogings in terme van Mediumtermyn Inkomste- en Uitgaweraamwerk (MTIUR) ingefaseer sal word.
Kostedruk
Loock verduidelik dat die munisipaliteit geweldige kostedruk ervaar en geld nodig het, veral om die maandelikse Eskom-rekening te betaal. Daarom is dit noodsaaklik om die basislyn-verhogings te implementeer, maar die besluit om die verhogings nie in te faseer nie, plaas geweldige druk op die gemeenskap.
Kostebesparing
"Kostebesparing is ook noodsaaklik. Die munisipaliteit se geraamde uitgawes vir 2023/2024 beloop tans R544 249 465,40.
Die grootste uitgawe is werksverwante onkoste wat 33,53% van die totale bedryfskostes uitmaak - dit beloop R182 489 162,00 waarvan R6 615 959,75 op die vyf senior bestuurders se salarisse spandeer word," sê Loock.
Die Advertiser het 'n navraag aan Dr Beyers Naudé-munisipaliteit gerig rakende planne om koste te bespaar, maar teen druktyd is geen antwoord ontvang nie.
Die 2023/2024 begroting kan op die volgende skakel gevind word.
Daniel Williams, onder-voorsitter van die Camdeboo Development Forum
Dr Beyer Naudé-burgemeester en ANC-, en ExCO-lid, Willem Safers
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’