GRAAFF-RENEIT NUUS - Benewens die probleme met die DBNLM se stortingsterreine wat die afgelope tyd baie reaksie ontlok het, is die onwettige storting van vullis en vullisverwydering in ander dorpe ook 'n kopseer.
Steytlerville
In Steytlerville word rommel al langs die Grootrivier en oor die kante van die rivier se brug gestort. Ook in al die agterstrate van die dorp en op die straathoeke van die woonbuurte.
Volgens Hanli Buber, voorsitter van beide die Steytlerville Residents' Forum en die Dr Beyers Naudé Residents and Ratepayers' Action Group moet daar dringend hieraan aandag gegee word aangesien dit 'n openbare gesondheids- en omgewingsbedreiging is.
Dit word glo maand na maand gevra, maar daar is geen reaksie van die munisipaliteit se kant af nie.
"Ons bel, ons skryf briewe, ons dien verslae in, maar ons noodkrete val op dowe ore," sê sy moedeloos. "Wanneer gaan die munisipaliteit begin skoonmaak en die munisipale verordeninge wat met onwettige storting te make het, begin afdwing," vra Buber.
Die voortdurende rommelstrooiing in dorpe is kommerwekkend en daarbenewens is daar baie min besighede en huishoudings wat herwin. Dit is uitdagings wat sommige inwoners probeer aanspreek.
Herwinning in Steytlerville is ook 'n knelpunt omdat die duur infrastruktuur wat daarvoor gebou is nie behoorlik benut word nie.
Daar is ook geen bewusmaking oor die moets en moenies van herwinning nie.
Aberdeen
'n Aberdeen-inwoner sê hulle gooi sommer hul vullis in die rivier omdat die munisipaliteit nie gereeld vullis verwyder nie. Raadslid Eldrige Ruiters sê egter dat dit nie die waarheid is nie - vulis word gereeld verwyder.
"Daar is geen probleme met vullisverwydering nie, maar die stortingsterrein word nie reg bestuur nie. Die toegangspad na die stortingsterrein is gereeld geblokkeer omdat almal, insluitend die munisipaliteit, vullis stort op enige oop plek wat hulle kan kry," sê Ruiters.
Willowmore
Raadslid Ewald Loock sê dat Willow-more geweldige groot probleme met vullisverwydering ondervind.
Die trok waarmee die vullis verwyder moet word, staan volgens hom al vir ten minste 'n jaar stukkend en daarom word die vullis tans met bakkies na die stortingsterrein aangery.
Volgens Loock staan die trekker waarmee die rugby- en krieketvelde se gras gesny word ook nou al vir 'n jaar lank stukkend. Volgens hom word daar 'n trekker ten duurste gehuur wanneer die gras gesny moet word.
Die onwettige storting van vullis is ook 'n groot probleem sê hy.
"Daar is twee dinge wat baie goed groei in Willowmore se woonbuurte, vullishope en rose," sê hy. Hy noem dat dit baie interessant is dat die dorp self relatief skoon is maar die woonbuurte waar mense woon word net eenvouding nie skoongemaak nie.
"Once in a blue moon kom daar 'n ou wat vullis kom verwyder maar andersins gebeur daar niks," sê hy.
Die direkteur van gemeenskapsdienste in die DBNLM, Gewnynne Hermanus, verduidelik dat die trok al in Oktober verlede jaar ingestuur is vir die nodige herstelwerk en is daar onderneem om die trok teen 27 November gereed te hê, maar omdat daar 'n vertraging in die aflewering van die nodige onderdele was moes hulle die spertyd uitstel na Januarie.
Volgens Hermanus is die Willomore-trok nou herstel en sal dit vandag (18 Januarie) vir 'n padwaardigheidstoets gaan.
"Van môre af (Vrydag 19 Januarie) sal dit weer volstoom in werking wees – en dan sal die munisipaliteit aandag aan die trokke op die ander dorpe gee," sê Hermanus.
Loock het egter op Woensdag 17 Januarie besoek by die werktuigkundige afgelê en volgens hom is daar gesê dat die trok eers oor ongeveer twee weke gereed sal wees om vir die padvaardigheidstoets te gaan.
Een van die baie vullishope in Willowmore.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’