GRAAFF-REINET NUUS - Die Voortrekkers se nasionale Presidents-verkenner afrondingskamp het van 9 tot 13 Julie op Graaff-Reinet plaasgevind.
'n Totaal van 205 gr. 12-leerders vanoor Suid-Afrika en Namibië het die kamp bygewoon.
Die kamp is met 'n seremonie deur Kaapland Voortrekkers geopen en na die tyd het almal met mekaar kennisgemaak.
Die program het 'n verskeidenheid van aktiwiteite ingesluit en daar is op temas soos geloofsvaardighede, emosionele intelligensie, leierskap, weerbaarheid, digitale burgerskap, positiewe burgerskap, die gevare van sosiale media en omgewingskennis, gefokus.
Die temas is op 'n verskeidenheid maniere aangebied deur byvoorbeeld speletjies, praktiese aktiwiteite of lesings. 'n Uitstappie na die Kamdeboo Nasionale Park was 'n groot bederf vir die groep.
Johan Minnaar het Dinsdagmiddag vir die Voortrekkers van die geskiedenis van Graaff-Reinet vertel waarna hulle op 'n skattejag deur die dorp gegaan het.
Almal is dit eens dat die hoogtepunt van die kamp definitief die dinee was wat Woensdagaand plaasgevind het. Deel van die program was pragtige begeleide sangitems deur die Voortrekkers en in die gees van die aand het almal saamgesing.
Uit erkenning aan die gr. 12-kunstenaars is selfoonliggies heen en weer gewaai en die res van die aand was dit tyd vir sokkie.
Die kamp het Donderdag met 'n diens in die NG Kerk in die dorp afgesluit. Die Voortrekkers poog om hoop vir die toekoms te gee as jongmense met waardes en karakter wat 'n verskil in die land en hulle gemeenskappe wil maak.
Die Voortrekkers is baie trots op al hul lede wat die Presidentverkennertoekenning ontvang het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’