GRAAFF-REINET NUUS – Van 1 tot 3 Desember het die top swemmers in die Oostelike Provinsie sake uitgespook in Port-Elizabeth tydens die OP-swemkampioenskappe.
Llewellyn Crewe-Brown en sy ouer suster, Lizandri, het aan die ope-afdeling deelgeneem.
Die kompetisie was straf en het die beste uitgebring uit die twee Graaff-Reinetters wat tussen hulle nege persoonlike beste tye opgestel het.
Lizandri het een goue en een silver medalje los geswem en was in die top 8 in al sewe van haar ander items.
Sy was ook deel van die top aflosspan van die byeenkoms waar sy die 100m rugslag-been geswem het.
Hulle het die OP-aflosrekord met ‘n fraksie van ‘n sekonde misgeloop maar is steeds gekroon as die ope-aflosspan van die byeenkoms en het die aflos-skild gewen.
Llewellyn het as 15-jarige aan die mans ope-afdeling deelgeneem en het teen harde baarde soos die SA swemmers - die Basson-broers (21-jaar-oud) - deelgeneem.
Hy het nie enige medaljes gewen nie maar het nie minder as ses keer in die top 15 geëindig nie - voorwaar ‘n top prestasie!
Lizandri Crewe-Brown en haar span met die aflos-skild.
Volkskool is trots op dié twee swemmers en sien met afwagting uit na die swemseisoen wat vroeg volgende jaar begin.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'