GRAAFF-REINET NUUS - Die pas afgelope naweek, het Hoër Volkskool se eerste tennisspan aan die Tennis4Jesus toernooi te Bredasdorp deelgeneem.
Die tog soontoe was 'n lang pad maar met die goeie geselskap het dié tyd vir die leerders gevlieg.
Die toernooi het oor twee dae gestrek en HVS se spelers het baie goed gevaar.
Die span het die eerste dag teen Hoërskool Dirkie Uys van Moreesburg gespeel en wen die stryd 32-19. Daarna het hul teen Hoërskool Hermanus gespeel en die wedstryd ook maklik gewen met 'n telling van 39 - 12. Toe speel hul die wedstryd van hul lewe teen Hoërskool Strand wat hul met 'n bulderende 47 - 4 gewen het.
Die volgende dag het hul in die semi-finale ronde teen Langenhoven Gimnasium van Oudtshoorn gespeel waar hul toe hulself gemaklik in die finale ronde in speel met 'n telling van 39 - 12. In die finaal kom hul toe te staan teen Hoërskool Framesby van Port-Elizabeth.
Senuwees het geknaag en die druk was hoog. Gelukkig het HVS se spelers genoeg ondervinding gehad om hul koppe bymekaar te hou en wen die wedstryd 39 - 12, en dus ook die toernooi.
"Hierdie is 'n bewys dat ons spelers vir geen groot skool hoef terug te staan nie - baie geluk aan hierdie span, julle maak ons almal trots!" het 'n woordvoerder vir die skool gesê.
Agter: Liezel Nel, Johannes Conradie, Dieter Bertram, Lliam van Heerden en Dane Thiart. Voor: Labré Oosthuizen, Inke van der Merwe, Dehana van der Merwe, Alwyn van der Merwe en Petri van der Merwe.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'