Gallery
HOFMEYR NUUS - Die gemeenskap het ywerig saamgewerk aan die jaarlikse landbouskou by die skouterrein en na afloop van die skou kan die 40 werkers van die kerk, skoukomitee en VLV met trots terugkyk op nog 'n wonderlike skou.
Die NG gemeente het die kombuis hanteer terwyl die VLV die pannekoekstalletjie beman het - en daar is omtrent gebak en gebrou vir die sowat 570 mense wat die skou oor die twee dae geniet het.
FOTOGALERY: Wonderlike skou bring vreugde in Hofmeyr
Uitstallers is Donderdagaand, 16 Maart, tydens 'n geselligheid verwelkom en Vrydag was dit tyd vir skaapskou en boeresport.
Shaun Vermaak, 'n merinoboer van Klipplaatsdrift, het 'n driekuns aangeteken en beste wol, beste groep ooie en beste vordering gewen.
Vrydagaand het 80 feesgangers heerlik by die skoudans makietie gehou.
Saterdag was dit tyd vir die boer- en saalperdskou, die troeteldierskou en die Bielie-Mielie-kompetisie. Elke inskrywing by Mielie-Bielie bestaan uit vyf mieliekoppe waarvan die beoordelaars die pitte tel. Die boer met die hoogste pit-gemiddeld wen, maar punte word afgetrek vir wurms, muf, oop skutblare en vrot plekke. Die kompetisie is deur Braam du Plessis met 960 pitte per kop gewen.
Kinders kon verniet die skou bywoon en140 jonges het hiervan gebruik gemaak en ook aan die jeugskou deelgeneem.
Nadat alle uitstallers, deelnemers en besoekers die terrein verlaat het, het een van die organiseerders opgemerk dat dit nie eers nodig was om 'n enkele papiertjie op te tel nie. Alles was skoon en netjies.
Passie vir Christus
Daar word ook kliphard geoefen en voorberei vir die Passie vir Christus-fees wat op 2 April in die NG Kerk in Hofmeyr aangebied word.
By die geleentheid lewer ds. Marius Barnard, wat na Kroonstad verhuis, sy afskeidspreek. Die koor en orrelis van die gemeente oefen reeds geruime tyd, terwyl daar ook gewerk word aan Paasversierings vir die kerk op dié Palm-Sondag.
Ds. Marius Barnard se afskeidspreek in Steynsburg word beplan vir komende naweek, 26 Maart.
Braam du Plessis, die wenner van die Bielie-Mielie-kompetisie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’