Update
KAROO NUUS - Menige boere in die Willowmore-distrik sukkel steeds om die rampspoedige gevolge van die verwoestende vloede op 5 Maart te oorkom.
Die plaas Matjiesvlei aan die onderkant van die verbindingspad tussen Willowmore en Klaarstroom, is veral swaar getref.
FOTOGALERY: Vloedskade se rampspoedige nagevolge
Die pad het heeltemal weggespoel en al die plase aan die noordekant van die Swartberge was vir lank van die buitewêreld afgesny.
Raadslid Ewald Loock, wat in die omgewing grootgeword het, was verstom toe hy die beeldmateriaal van die rivier sien. "Dit is absoluut ondenkbaar dat daar soveel water kon wees," sê hy.
Thea Barnard sê in hulle 24 jaar op Matjiesvlei het hulle nog nooit soveel skade gehad nie. "Die lande se pype is alles weg. Alles. Die koedoeheinings is plat. Die binnekampe se matte is weg. Groot skade. Die bome lê op die lande en die sand is bo-oor die lusern. Dit lyk sleg. Die monohuisie in die springbokkamp is weg. Die monopompe is onder water. Ons huis het nie water nie, ons pomp maar uit die gronddam uit huis toe," sê sy.
"Die 50 skape wat op die lande geloop het is weg met die water. Dit is so aardig, jy ruik net dooie goed in die riviere. As mens van ramp praat, hier is 'n ramp. Mense besef nie wat hier aangaan nie."
Haar man en seun is bitter moedeloos. "Ek bly op my knieë en vra die Here moet my net die krag gee om hulle te ondersteun," sê sy. "Die gemoedere loop maar laag. Ek bid net en glo die Here sal help."
Sy bedank Loock vir sy moeite en ondersteuning. Loock het die padverspoeling aan Randall Moore, distrikspadingenieur gerapporteer.
Omdat dit 'n gewilde hoofgrondpad is, het Loock gehoop dat dit spoedig herstel sou word. Die departement het egter eers agt dae later opgedaag, 'n ompad gebou en daarna met herstelwerk begin.
Loock het Maandag weer met die departement in verbinding getree om uit te vind of hulle die proses kan bespoedig.
"Die pad moet regkom sodat die Barnards hul draadheinings kan regmaak. Dan kan hulle ten minste weer die veld aan weerskante van die pad begin gebruik," sê hy. Loock sê die skade wat boere ly word nie genoeg in ag geneem nie.
"Almal dink altyd aan die pad wat weggespoel het, maar niemand dink aan die ellende van die boere aan die onderkant van hierdie pad nie."
Vorige artikel: Boere in Willowmore-distrik sukkel met nagevolge van vloede
Die verbindingspad tussen Willowmore en Klaarstroom is verwoes.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’