GRAAFF-REINET NUUS - 'n Egpaar van Hermanus is steeds in die dorp gestrand na hulle motorsleutels die afgelope naweek tydens die Interskole vermis geraak het, maar, sê Monica van Zyl, het die tragedie eintlik 'n mooi nadraai.
"Ons het reeds Donderdag Graaff-Reinet toe gekom en was die naweek by Volkskool se 55ste reünie. Ek en my man, Riaan, was beide van Sub A tot in matriek in Volkskool en sy pa was ook 'n onderwyser by die skool. Met die 100 jaar-vieringe kon ons dit eenvoudig nie mis nie en het in Graaff-Reinet kom kuier," vertel Van Zyl.
Volgens haar het hulle later opgemerk dat hul Mercedes B180 diesel 2013 se sleutels vermis is.
"Ons kon dit net eenvoudig nêrens opspoor nie. Dit het genoodsaak dat ons langer in Graaff-Reinet moes bly as wat ons aanvanklik besluit het, maar dit is waar ons storie wonderbaarlik raak."
Van Zyl sê die gastehuis waar hulle tuisgaan het hulle sedert die sleutels verlore geraak het verniet laat bly.
"Ria en Pierre van Aa'Qtansisi Guest House is ongelooflik. Hulle was tegemoetkomend van die oomblik af wat ons hulle vertel het wat gebeur het en het ons tot en met Dinsdag wat ons hier gewoon het niks gevra nie. Ou skoolvriende se harte en deure het oopgegaan en almal het aangebied om ons te help en te huisves."
Van Zyl sê die ekstra paar dae was egter vir haar en haar man heerlik.
"Gewoonlik kom ons net vir die reünies en gaan dadelik weer huis toe, maar nou kon ons bietjie vertoef en letterlik deur die dorp loop. Dit is so lekker om weer al die plekke te besoek en besigtig. My pa was ds. FJ Bessinger, die laaste predikant van die Sendingkerk wat nou die Hester Rupert-museum is. Na die museum geopen is het my pa sy gemeente na Kroonvale geskuif."
Die egpaar het hul spaarsleutels van Hermanus af laat koerier, maar is steeds op soek na die voertuig se sleutels. Hulle vra dat enigiemand wat moontlik weet waar die sleutels is of dit miskien opgetel het hulle by 082 774 6717 sal kontak.
"Ons wil almal wat ons tot dusver gehelp het bedank. Van ons skoolvriende, die vriendelike personeel by die Graaff-Reinet Advertiser, maar veral die eienaars van die gastehuis. Die Karoo-vriendelikheid sal mens moeilik iewers anders kry. Julle het van 'n slegte situasie eintlik 'n lekker situasie gemaak."
Sleutels soos dié word gesoek.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'