GRAAFF-REINET NUUS - 'n Plaaslike inwoner is op Donderdag, 9 November, lewenslank tronk toe gestuur nadat hy in die Graaff-Reinet-streekhof aan verkragting skuldig bevind is.
Polisie Woordvoerder, A/O Gerrie van Rooyen, rapporteer dat die skuldigbevinding en vonnis spruit uit 'n insident wat gedurende Julie 2016 plaasgevind het.
Die 34-jarige klaagster was laataand oppad huis toe, toe sy deur die verdagte in Mandela Park, Kroonvale, voorgekeer is.
Hy het aangedring om saam met haar te stap en met haar aankoms by haar woning is sy deur die verdagte aangeval, gewurg en verkrag.
Die 36-jarige Clifton Smith is kort na die voorval aangekeer en van die verkragting aangekla.
Verlede Donderdag is hy tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis.
Volgens A/O van Rooyen volg Smith se skuldigbevinding en swaar vonnis op soortgelyke vonnise wat verkragters onlangs in die plaaslike howe opgelê is.
Die sake waaroor reeds in die Advertiser berig was, is almal deur die Graaff-Reinet Eenheid teen Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Misdrywe ondersoek.
Van Rooyen het dié eenheid geloof vir hul suksesse.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'