SOMERSET-OOS NUUS - Die polisie is steeds op soek na 'n verdagte ná 'n skietvoorval op Donderdag 1 April in Somerset-Oos.
Volgens kapt. Bradley Rawlinson, polisiewoordvoerder, het 'n anonieme persoon hulle geskakel en in kennis gestel van die voorval.
Met nooddienste se aankoms in Aeroville is 'n 42-jarige man met 'n skietwond aan die onderkant van sy regterbeen in die straat aangetref.
"Die slagoffer is gestabiliseer en na die Andries Vosloo-hospitaal geneem. 'n Saak van poging tot moord is intussen geopen," sê Rawlinson.
Die polisie doen 'n beroep op enigiemand met inligting om speursersant Loyiso Ngqoza by 042 243 1100 te kontak.
'Ons bring jou die nuutste Somerset-Oos, Karoo nuus'