HOFMEYR NUUS - Die NG-gemeente in Hofmeyr beleef die afgelope tyd grootskaalse inbrake by die gebou waarin die kerksaal, die gemeenskapsentrum en die sopkombuis gehuisves word.
"Talle werkloses word hier versorg en van kleding en opleiding voorsien. Ongelukkig maak vandale nou 'n oorlas van hulself en word daar nou op 'n weeklikse basis by die gebou ingebreek," vertel Willem Hanker, koster van die gemeente.
Daar is al vantevore berig oor inbrake by die gebou, wat ook die opheffingsinstansie, Hofmeyr Hugs of Hope, huisves. In die afgelope maand is daar by die kantoor van die skriba ingebreek, asook in die spens van die kerksaal, waar breekware ook geberg word.
'n Massiewe klip is eenvoudig deur die ruit gegooi en die blindings is beskadig. Daar is buit gemaak op die inhoud van die vrieskas, waaruit die Diens van Barmhartigheid vleis aan gesinne voorsien.
"Talle slaghoenders is ook uit die vrieskas gesteel. Die slaghoenders vorm deel van die NG-gemeente se fondsinsamelingsprojek vir 2021, waar plaasgeslagte hoenders vanuit die kerksaal verkoop word.”
Daar is ook by die kerk se boekestoor ingebreek, maar gelukkig word niks vermis nie.
"Diefwering by alle vensters, asook ‘n groot aantal sekuriteitskameras is nou geïnstalleer,” sê André Schoeman, 'n ouderling in beheer van die Eiendomskommissie.
"Alle kerke het onder groot finansiële laste deurgeloop die afgelope tyd met die grendelstatus en die verbod teen aanbidding in kerkgeboue. Hierdie is werklikwaar vir die gemeente van Hofmeyr 'n ernstige terugslag," aldus 'n distriksboer, Willem Herselman, wat ook die voorsitter van die kerkraad is.
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'