GRAAFF-REINET NUUS - Burgemeester Deon de Vos van die Dr Beyers Naudé Plaaslike Munisipaliteit se jaarlikse uitreikingsprogram het verlede week in die suidelike deel van die munisipale gebied afgeskop.
Hy word begelei deur 'n afvaardiging van munisipale amptenare.
Hierdie openbare deelname program dien om die hersiende 2019/20-geïntegreerde ontwikkelingsplan, asook die konsep 2019/20-begroting, aan gemeenskappe van al 14 wyke bekend te stel en geleentheid te skep vir insette tot en konstruktiewe interaksie rondom die voorleggings.
De Vos sê 'n skedule van die uitreikingsprogram, wat op 2 Mei in Wyk 4 eindig, is reeds gepubliseer en is ook op kennisgewingborde aangebring.
"Inwoners, sowel as die privaat en openbare sektore, word aangemoedig om die vergaderings by te woon en die dokumente, wat by biblioteke en munisipale administratiewe geboue ter insae lê, te besigtig."
Die sperdatum vir inspeksie en kommentaar is Donderdag, 9 Mei.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'