GRAAFF-REINET NUUS - Nog van die lewensnoodsaaklike ligte by die helikopter-landingsdek langs die Graaff-Reinet-lykshuis is vannag byna gesteel.
Gelukkig het die hoof van forensiese patologie, Jacques Wagner, die dief vanoggend op heterdaad betrap en het die skurk die ligte laat val en laat spaander. Wagner het hom probeer aankeer, maar hy het oor ‘n muur geklouter en gevlug.
Net die vorige nag is twee peperduur spreiligte gesteel en die bedrading is erg tydens die diefstal beskadig.
Wagner is besig om die oorblywende ligte af te haal om te vehoed dat booswigte alles wegdra. Die ligte is deur ‘n weldoener geëinstalleer sodat reddingshelikopters snags op die dek kan land om kritieke pasiênte na groter hospitale te vervoer vir spesialis-sorg.
“Ek sal dit eers weer kan opsit as daar genoeg sekuriteit in plek is.” Wagner is in gesprek met die Departement van Gesondheid oor die saak.
Mense word gevra om op die uitkyk te wees vir die ligte, wat nie sommer oor enige toonbank beskikbaar is nie.
Kontak die polisie op 049 807 1100 / 10111 of die speurtak op 049 807 6600.
Mense word gevra om op die uitkyk te wees vir die ligte, wat nie sommer oor enige toonbank beskikbaar is nie.
Verwante artikel: Sakelui gryp in om Heli-Dek te red
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'