Video
GRAAFF-REINET NUUS EN VIDEO - Sakelui van Graaff-Reinet het gesorg vir 'n deurbraak in spoediger mediese sorg vir pasiënte in die Graaff-Reinet omgewing, deur self in te gryp.
'n Nooddiens-helikopter kon Dinsdag, 2 Julie, op 'n helikopterdek langs die Graaff-Reinet forensiese patologiese-eenheid land, om 'n pasgebore baba wat geveg het om haar lewe na Port-Elizabeth te neem vir behandeling.
Dít nadat die vervalle landingsdek vir bykans 12 jaar in onbruik was.
'n Noodsituasie het ontstaan toe, onder andere, SA Red Cross Air Mercy Service en Emergency Medical Services (EMS) se bestuur in Mei vanjaar kennis gekry het dat hulle nie meer by die hospitaal of SAPD Akademie mag land om pasiënte op en af te laai nie.
Die Dr Beyers Naudé-munisipaliteit het toe gesê dat hulle nie geld het om die helikopterdek in stand te hou nie.
Plaaslike sakelui en gemeenskapslede het dadelik ingespring om die helikopterdek langs die forensiese patologiese-eenheid gereed te kry.
"Môre kan dit een van ons familielede wees wat per helikopter vervoer moet word om sy of haar lewe te red," het Gerrie Germeshuizen, wat ook betrokke was by die skoonmaakproses, aan die Advertiser gesê.
"Ons kan nie net stilsit en toekyk nie."
Kyk 'n video hieronder.
Die vlieënier, Kaptein Oggie Willats, het na die landing op 2 Julie die sakelui en inwoners geloof vir hul toewyding en gesindheid teenoor mediese sorg.
Alhoewel die helikopterdek nog ligte en ander noodsaaklikhede kortkom, het Willats dit as 'n uitstekende helikopterdek beskryf. Na opstyg, het die EMS 45 minute later aan die Advertiser bevestig dat hulle in Port-Elizabeth geland het, en dat die baba veilig is.
Van die mense en instansies wat ingespring het om te help is Jacque Wagener, Hi-Q, AW van der Berg Enterprises, Korrektiewe Dienste, EMS Somerset-Oos, EMS Graaff-Reinet en Willie van Rensburg.
Die helikopterdek kort nog afrondingswerk, soos beligting. Enige iemand wat kan help kan Jacque Wagener skakel by 066 303 8844.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'