HOFMEYR NUUS - Tilla Olivier, wat in Hofmeyr grootgeword het, het onlangs die boek, Alida vertel, vrygestel.
Tilla, 'n emeritus professor aan Nelson Mandela Universiteit, se boek spruit uit goudgeel, getikte en handgeskrewe stories wat haar ouma, Alida van der Merwe, 'n predikantsvrou van Hofmeyr, geskryf het.
"Dit het jare gelede van my ma, Elise Smit afgekom, nadat ons haar huis in Hofmeyr opgeruim het. Hierdie stories het my ouma heel moontlik geskryf nadat sy haar kakebeen moes verwyder as gevolg van kanker. Sy kon na die operasie nie langer praat nie, alhoewel sy vroeër graag stories met haar kleinkinders gedeel het.
"My ma het ook stukkies bygevoeg, en sy sou seker graag die storie wou publiseer, maar die stories was nie volledig nie. Gelukkig het ek die hulp van my niggie, taalversorgers, die historiese museum in Bloemfontein en my bekwame tikster gehad. Om mettertyd ook 'n uitgewer te vind was 'n berg om oor te klim.. My niggie, Marieka Visage, het die voorblad ontwerp en geskilder, en my eie ma se handskrif woord-vir-woord nageteken. Ek eien my eie ma se handskrif op die voorblad van die boek. Omdat my ouma se taalgebruik uit daardie jare aangepas moes word, het ek moeite gedoen met die taalversorging om dit professioneel te verwerk," vertel Tilla.
RSG se Mariska Spoormaker het op 20 Julie met Tilla gesels oor die boek, en die onderhoud is op RSG se Potgooi beskikbaar as Die trommels, die professor en die boek as deel van Martelize Brink se middagprogram.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’